GEORGE RUGBY NUUS - Die SWD Arende het vanjaar baie geleer en sal volgende seisoen weer terug wees. Dit is die boodskap uit die geledere van die span en bestuur wat 'n seisoen vol uitdagings in die 1ste divisie van die Curriebekerreeks agter die rug het.
Die span het ongelukkig onder aan die punteleer geëindig, maar ter verdediging moet gesê word dat hulle nie altyd beheer oor situasies gehad het nie.
Die span het verlede Vrydag, 23 Julie, hul laaste wedstryd in Gqeberha gespeel en met 28 - 19 teen die OP Olifante verloor.
Die Arende was tot kort voor die einde nog sterk in die wedstryd. Die Olifante het in die tweede helfte 'n onderskepdrie gaan druk en dit was die draaipunt. Tot voor die drie was die telling 18 - 14 vir die Olifante. Die Arende het daarna gaan druk en in die doodsnikke van die wedstryd het die Olifante 'n strafskop oorgesit.
Eddie Myners, afrigter van die SWD Arende, het Maandag gesê die Olifante het hul kanse beter benut. "Ons het gesukkel met afronding."
Die Arende soek nie verskonings vir wat in die reeks gebeur het nie, maar dit sou baie gehelp het as hy vroeër kon begin met voorbereidings. Dis veral met die speel van wedstryde. "Die tekort aan wedstrydfiksheid was ons grootste vyand vanjaar."
Van die omstandighede was ook buite die span se beheer. "Ons is die enigste span wat in net vier wedstryde kon speel en volpunte moes afstaan vir twee wedstryde wat as gevolg van Covid-19 nie gespeel kon word nie."
Hy het die hoop uitgespreek dat die 2022-seisoen nie so 'n moeilike jaar sal wees in terme van faktore buite die speelveld soos byvoorbeeld Covid-19 nie. As die kern van die span behou kan word, behoort dit baie beter in 2022 te gaan.
Buiten die wedstryde was dit ook vir spelers moeilik. Van die spelers kon nie gekies word nie omdat hul positief vir Covid-19 getoets het. Van die spanbestuurslede is ook positief getoets.
Drie van die spelers se ma's en die spanbestuurder, Martin de Vos, se ma is oorlede weens Covid-19.
Myners moes klaarkom sonder 'n bestuurder en 'n assistent-bestuurder as gevolg van die situasie. Benewens die afrigting moes Myners ook die span help om hul emosies bymekaar te hou.
Arende se rekord vanjaar
Die Arende het hul eerste wedstryd met 17 - 50 teen die Valke verloor. Die twee wedstryde wat daarna moes plaasvind teen die Luiperds en die Valke, moes afgestel word as gevolg van Covid-19.
Daarna het dinge beter gegaan en die Arende het met 21 - 28 teen Boland in Wellington verloor. Die Arende het teen Grens Bulldogs gewen met 50 - 29 en teen die Olifante met 28 - 19 verloor.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'