GEORGE ROLBAL NUUS - Die Boksombende het met hul oorwinning in die vyfde ronde van die Ricoh en Outeniqua Plumbers-besigheidsliga van die Outeniqua-rolbalklub die hout begin aanpak vir die spreekwoordelike vreugdevure wat hulle hoop om na vanaand (Donderdag) se eindronde aan te steek.
Met 'n voorsprong van ses ligapunte voor die span in die tweede plek, Elbow Benders, is hulle in 'n uitstekende posisie om as kampioene uit die stryd te tree. Dit sal meer as 'n reusagtige poging verg om hulle in hul opmars na die kroon te stuit.
Die spanlede, Sydney van Rensburg, Chris Meyer, Johan Klue en Graham Ferreira is dit eens dat niks hulle op pad na oorwinning gaan stop nie.
Die vyfde ronde wat aanvanklik afgestel was as gevolg van die internasionale magte-toernooi wat by die klub gehuisves is, het toe wel plaasgevind nadat ter elfde ure besluit is om die ronde wel te speel. Alhoewel dit addisionele druk op die bane sou plaas, is besluit dat die borge en spanne se belange swaar genoeg weeg om wel die risiko te loop.
Die ander spanne in die reeks is reeds so ver agter dat 'n hasie uit 'n hoed nie eens hulle van die kampioenskap kan verseker nie. Die verwagting is egter dat die kompetisie steeds kwaai sal wees om die hoogste moontlike posisie in die liga te behaal.
Span Butz & Gutz saam met Daan du Toit (derde van links) van Halfway Toyota wat die span al vir 'n hele paar toernooie borg. Die spanlede van die span wat in die derde plek weggespring, maar na 'n nederlaag na die agste plek teruggesak en weer na die vyfde plek opgeskuif het, is van links: Kobus van Wyk, Jaques Forster, Danie Liversage en Tiaan Lategan.
Na afloop van die wedstryde en prysuitdeling gaan die kunstenaar Cordelia by die klub optree wat gratis deur belangstellendes bygewoon kan word.
Die spelers, borge en ondersteuners wat vooraf bestellings geplaas het, gaan heerlik aan biefstuk smul terwyl sy en ander plaaslike kunstenaars optree.
Belangstellendes is welkom om die wedstryde vanaf 18:00 by die klub in Airwayweg, Heatherpark, by te woon.
Uitslae:
1 Boksombende 58;
2 Elbow Benders 52;
3 Mac Dee Hops 50;
4 Moore Stevens 50;
5 Butz & Gutz 49;
6 Talisman 49;
7 Outeniqua Woods 46;
8 Meyerkon 45;
9 KTV 44;
10 Incredibowls 43;
11 Coastal Relax 43;
12 Kommaweer Stoffeerders 41;
13 Finovo 41;
14 4 Musketeers 40;
15 Chanel doggy Parlour 40;
16 Garden Route 39;
17 Spares Squad 38;
18 King Earls 36;
19 Ricoh 35;
20 Just Property 35;
21 Biopolar Plumbing 34;
22 Golden Girls 34;
23 Ricoh Sales 34;
24 Bowlistics 31;
25 Carpet King 31;
26 Bril-jant 31;
27 Tyres en Treads 29;
28 Bearing Warehouse 22.
Wedstrydlys:
Boksombende t Elbow Benders; Mac Dee Hops t Moore Stevens; Butz & Gutz t Talisman; Outeniqua Woods t Meyerkon; KTV t Incredibowls; Coastal Relax t Kommaweer Stoffeerders; Finovo t 4 Musketeers; Chanel Doggy Parlour t Garden Route; Spares Squad t King Earls; Ricoh t Just Property; Biopolar Plumbing t Golden Girls; Ricoh Sales t Bowlistics; Carpet King t Bril-jant; Tyre & Treads t Bearing Warehouse.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'