GEORGE NUUS - As jy lus het om vir 'n goeie doel fiets te ry moet jy 16 Desember oophou, want dan vind die Finovo Jakkalberry Extreme MTB-fietswedren in die Tuinroete plaas.
Die Jakkalberry/Halfjakk is 'n inisiatief van die George Vryburgers-diensorganisasie wat die jaar vir die derde keer aangebied word met Finovo as die hoofborg.
Die geld wat met hierdie projek ingesamel word, word direk gekanaliseer na die Vryburgers se nasionale Kos vir Kinders-projek.
Die Kos vir Kinders-projek word reeds jare lank deur die Vryburgers gedryf met die doel om skole se voedingsprojekte te ondersteun sodat kinders uit behoeftige omstandighede daagliks 'n voedsame kospakkie by die skool kan ontvang.
Die kospakkie is soms die enigste voedsame maaltyd wat huis toe kom en self gedeel moet word onder die gesinne. Verlede jaar is R145 000 met die projek ingesamel.
Hildred Basset van die Vryburgers George het by navraag gesê vanjaar se Jakkalberry-geleentheid bestaan uit twee dele.
Daar is die Jakkalberry Extreme, wat oor 'n afstand van 108 km beslis word en die HalfJakk oor 'n afstand van 47 km. Die Jakkalberry begin die oggend om 06:00 by die Redberry Farm net buitekant George.
Die HalfJakk begin by Ruiterbosch Lodgde naby Hartenbos om 08:00. Beide eindig by Jakkalsvlei-wynkelder naby Mosselbaai.
Volgens Basset het beide die roetes hul uitdagings. Dit word gery in van die mooiste dele van die Tuinroete en die roetes verken die agterpaaie en die natuurskoon van die Outeniquaberge. Enige persoon wat 15 jaar en ouer is kan deelneem. Daar is afdelings vir mans en dames met prysgeld vir die wenners in die verskeie kategorieë.
Daar is die Jakkalberry Extreme, wat oor 'n afstand van 108 km beslis word en die HalfJakk oor 'n afstand van 47 km. Foto: Deidre Cloete
Vanjaar word "gravelbikes" ook toegelaat en verwag ons om kranige fietsryers vanoor die land te verwelkom vir hul deelname.
Mense sal ook op e-fietse kan deelneem, maar sal nie kwalifiseer vir die uiteindelike podiumposisies nie. E-fietse word wel slegs op die HalfJakk toegelaat.
Inskrywings is oop en sluit om 13 Desember om middernag.
Sover lyk die belangstelling goed. Inskrywingsgeld beloop R950 vir die 108 km en R450 vir die 47km, Junior ryers (16-18 jaar) kry ‘n spesiale tarief van R225 om mee te ding in die HalfJakk.
Die Vryburgers doen 'n beroep op mense om in te skryf. "Dis soos om 'n kospakkie los te trap. Hierdie is nie maar net nog 'n fietswedren nie, maar eerder een wat 'n verskil maak. Dit vind plaas in van die mooiste dele van die Tuinroete en met deelname word gehelp om honger kinders te voed," het Basset gesê.
Plaaslike ondernemings word ook ‘n hupstoot gegee met die aanbied van die geleentheid.
Die ryers kan weereens uitsien na vyf fantastiese waterpunte op die roete waar eet- en drinkvoorraad aangevul kan word. By die eindpunt sal familie en vriende deelnemers kan inwag. Daar wag 'n yskoue boetiekbier asook 'n heerlike pizza vir elke ryer as beloning. 'n Klomp gelukstrekkings gaan hier ook groot aftrek geniet tesame met 'n feestelike atmosfeer.
Hy het gesê sonder die borge kan die geleentheid nie plaasvind nie en sy opregte dank teenoor hulle uitgespreek.
Vir meer inligting en/of om in te skryf, besoek gerus die webtuiste www.jakkalberry.com of www.entryninja.com.
Borge
- R&A cycles
- Graincare
- Safari
- OASIS
- The Great butcher
- 4Brothers
- Motus Ford George
- Biogen
- Switch
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’