Gallery
GEORGE NUUS - Die Eden-swemkampioenskappe vir langbad het die afgelope naweek, 19 en 20 November in George by die Conville-swembad plaasgevind.
Drie swemklubs het aan hierdie goed georganiseerde swemgala deelgeneem en die heerlike somerweer terdeë geniet. Royal Swimming Academy (RSA), Fish Eagle Aquatics van George en Knysna Aquatics, was aan boord.
RSA is aangewys as die toppresteerderklub van die langbadklubkampioenskappe vir die seisoen en spog dus nou as algehele toppresteerderklub in die Eden-distrik nadat hulle vroeër vanjaar die kortbad-kampioenskap verower het. Met 46 deelnemers verlede naweek, het altesaam 33 RSA-swemmers medaljes gewen.
Die volgende swemmers het uitmuntend presteer en met die groot toekennings weggestap: Ula van der Merwe (14) van Knysna Aquatics (senior victor ludorum), met RSA se drie wenners Yedidah Theron (16, senior victrix ludorum), Zoi Dimatellis (10, junior victrix ludorum) en AJ Fernold (12, junior victor ludorum).
"Ons is baie opgewonde oor ons prestasies," het Mimette Salter, stigter en hoofafrigter van RSA, gesê.
"Ons swemklub is in 2014 gestig, ons het agt afrigters en die beste swemmers in die hele wêreld! En... hulle is baie cool."
Zoi Dimatellis (10) en Zané Grobler (12) van RSA (Royal Swimming Academy).
Fish Eagles
Swemafrigter van Garden Route Swim School (GRSS), Franna Vorster, het vandeesweek gesê sy span is trots om deel te wees van die Fish Eagle Aquatics-swemklub: "GRSS het altesaam 22 swemmers by die kampioenskap gehad, waarvan 13 swemmers medaljes verwerf het. Ek is baie trots op elkeen van die swemmers. Weens skooleksamens en sommige wat siek was, kon nie al die swemmers deelneem nie."
FOTOGALERY: Swemmer presteer by Eden Langbaan-kampioenskappe
Vorster is 'n driekampatleet wat nog steeds aan byeenkomste deelneem. Hy het op 6 November aan die 70.3 Half Ysterman in Mosselbaai deelgeneem en 4de plek in sy ouderdomsgroep (50-54) behaal.
"Ek glo dat ons lewens net verander as ons meer toegewyd raak om ons drome te bereik, as wat ons ingee om in ons gemaksone te bly. Droom groot, bly positief en moet nie toelaat dat terugslae in die lewe jou drome steel nie," het Vorster gesê. Sy tyd by die 70.3 Half Ysterman was vyf uur en agtien minute (5:18). Altesaam 26 atlete wat deelgeneem het, oefen gereeld hul swem saam met Vorster.
Ula van der Merwe (14) van Knysna Aquatics (senior victor ludorum), met RSA se drie wenners Zoi Dimatellis (10, junior victrix ludorum), Yedidah Theron (16, senior victrix ludorum), en AJ Fernold (12, junior victor ludorum).
RSA is aangewys as die toppresteerderklub van die langbadklubkampioenskappe vir die seisoen. Hulle het vanjaar beide die langbad- en kortbadkampioenskappe gewen.
Afrigter Franna Vorster van Garden Route Swim School saam met van sy medaljewenners. Van links is Anton-Ben Biehler (15), Caleb Coates (10), Carlo Bezuidenhout (13), Cara Corrigan (15), Leila Pollicutte (16), Minke Janse van Rensburg (18), Liam Potgieter (15) en Renier van Greunen (15). Afwesig: Matthew Tindall (14), Billy Tindall (15), Erhardt Gerber (44), Emíle van Heerden (9) en Leané Swanepoel (12). Foto: Deidre Cloete
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'