GEORGE-NUUS - Die skuts het die pyle laat sing by die George Boogklub se eerste skietdag Saterdag by Rest Haven in Wildernis.
Eugene Botha het die senior afdeling gewen met ‘n telling van 155. Die junior prys het aan Alicha Laubscher gegaan met ‘n telling van 80.
Ná die skietkompetisie het ‘n pretkompetisie op ‘n veerpyltjiebord plaasgevind met die skiet van boë. Hier het Kobus Venter die 501-spel met boog gewen.
Die fasiliteite bied 15 3D-teikens wat wissel van rubbereende tot volgrootte luiperds. Die baan is kundig uitgelê deur ervare boogjagters en strek oor omtrent ‘n kilometer area in digte bos.
Verskeie moeilikheidsgrade is uitgewerk met skietafstande wat wissel tussen 12 tot 40 meter. Teikens word geplaas in terreine wat wissel van bos, oor water en teen verskeie hellings.
Hierdie dag was ‘n reuse sukses met wenners wat met goeie pryse weggestap het. Dit het die skuts gemotiveer om spanne in te skryf en ander boogklubs uit te daag.
Daar word hard gewerk aan ‘n onderdakfasiliteit om in die aande boogskiet-kursusse en opleiding te kan aanbied.
Die volgende skietdag is op 15 Mei en alle belangstellendes word genooi om Koos Venter te skakel by Fishing Tackle & Sport by 082 441 8036.
Skietdae vir die jaar is op 15 Mei, 5 Junie, 24 Julie, 21 Augustus, 18 September, 16 Oktober en 13 November.
Skuts span die snare, van links, Genevieve Walter, Michael Halbich, en Robert Walter.
Francois van Jaarsveld (links) by Eugene Botha, wenner van die kompetisie. In die agtergrond is Koos Venter.