GEORGE NUUS - 'n Rekordgetal van 36 spanne het verlede week in die Stadler & Swart en Outeniqua Plumbers Handelsliga van die Outeniqua Rolbalklub op drie bane in die eerste ronde van die reeks aangetree.
Dit is verreweg die meeste spanne wat nog ingeskryf het en 'n paar ander spanne kon nie speelkans kry nie as gevolg van baanbeperkings. Dit dui daarop dat sosiale rolbal by Outeniqua steeds groei en in gewildheid toeneem.
Daar is ook verskeie voormalige sosiale spelers wat by die klub aangesluit het en tans klubrolbal speel.
Een van die groentjiespanne, Groovy Bois het na die eerste ronde voorgeloop met Meent Street Clan wat in hul nekhare blaas.
Die ervare span Ricoh Span is in die derde plek met Bowling Stones en Frikkie wat ook vantevore deelgeneem het, in die vyfde en sesde plek. Dit is egter nog baie vroeg in die reeks van ses rondes oor ses weke en die verwagting is dat nuwelinge en ervare spanne mekaar gaan aanvat hoe verder die reeks vorder.
Die tweede ronde word vanaand, Donderdag 28 April, op die bane van Outeniqua Rolbalklub in Airwayweg, Heatherpark gespeel en begin om 18:00. Belangstellendes is welkom om die wedstryde by te woon. Klublede berei ligte etes en 'n kontantkroeg is beskikbaar.
Uitslae: 1 Groovy Bois 13; 2 Meent Street Clan 12; 3 Ricoh Span 12; 4 Ruwacon 12; 5 Bowling Stones 12; 6 Frikkie 12; 7 Wild Rovers 12; 8 Transformers 12; 9 The Untouchaballs 11; 10 Apex Window Cleaning 11; 11 The Nice Guys 10; 12 Chuckies 10; 13 Boksombende 10; 14 Southern Cape Properties Team 2 10; 15 Butz & Gutz 9; 16 Sapcor Wealth 9;17 Ou Rollers 9; 18 Etika 9; 19 Stadler & Swart 8; 20 Bowlistics 7; 21 Tax Consulting 7; 22 Finovo 7; 23 Talisman Tigers 6; 24 Mat Katte 6; 25 Weldon Optical 6; 26 The Tax Shop George 6; 27 Meyer Konstruksie 5; 28 Besociables 5; 29 Boulers 4; 30 Africorp Accounting 4; 31 Kommaweer Stoffeerders 4; 32 Southern Cape Properties Team 1 4; 33 SP Legal 4; 34 Sweaty Balls 4; 35 Die Koeksusters 4; 36 Jaysmart & Pioneer Finance 3.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'