GEORGE ROLBALNUUS - Outeniqua-rolbalklub het tydens die klub se Zoom-jaarvergadering die hele bestuur onbestrede verkies met Greg Young wat vir die vierde agtereenvolgende jaar as president herkies is.
Alhan van der Merwe is tot visepresident verkies nadat John Dampier nie meer herkiesbaar was nie.
Die sekretaris, Japie Combrink, tesourier Phillip Hattingh en wedstrydsekretaris, Anri Fick, is al drie ook weer herkies.
Die addisionele lede is Das Barnard, Jaco Grobbelaar en Neville Ewing.
Die ledegelde is met R100 verhoog tot R1 100 terwyl die sosiale lede se ledegeld op R300 onveranderd gebly het.
In sy jaarverslag het Young al die lede wat geesdriftig vir die klub werk hartlik bedank en die lede wat klubkompetisies sowel as Eden-kompetisies gewen het, geloof vir hul prestasies.
Die volgende handelsliga-reeks, die Outeniqua Solar en Riaan de Wit Lenteliga skop weer op 2 September af en sal, soos in die verlede, oor ses weke op Donderdagaande gespeel word.
Belangstellende spanne kan nou reeds inskryf deur Greg Young by 082 804 8943 te skakel. Navrae kan ook by die klub self gedoen word.
Die bestuurslede van Outeniqua-rolbalklub is van links: Alhan van der Merwe, Jaco Grobbelaar, Phillip Hattingh, Neville Ewing, Japie Combrink, Anri Fick, Das Barnard en Greg Young.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'