GEORGE ROLBAL-NUUS - Outeniqua-rolbalklub se spanne het vanjaar die Eden gemengde viere-kampioenskap oorheers deurdat drie spanne tot die twee halfeindronde deurgedring het.
Dit was net Tish Hockney se span van die Mosselbaai-rolbalklub wat ook 'n plek in die halfeindstryde kon verseker. Hulle het uiteindelik met die bronsmedalje weggestap deur Terrence Wilson se span van Outeniqua te klop.
Die ander lede van die Mosselbaai-span was Chris Hockney, Brenda Burger en Patrick Stockwell terwyl Wilson se spanlede Anri Fick, Gillian Young en Willem Fick was.
Die wedstryd tussen die twee Outeniqua-spanne van Attie Nortje en Billy Radloff wat in die eindstryd teen mekaar te staan gekom het, was deurgaans 'n titaniese stryd met beide spanne wat geweier het om bes te gee met 'n koue windjie wat op die George-rolbalbane in die blaaie gewaai het.
Radloff se span met Japie Combrink, Trix van Niekerk en Mariska Louw het uiteindelik met goud weggestap.
Die lede van die kampioenspan, wat hier saam met Helene Gagiano van Eden-rolbal (tweede van links) verskyn, is van links: Billy Radloff, Japie Combrink, Trix van Niekerk en Mariska Louw.
Outeniqua-rolbalklub se drie spanne wat almal tot die halfeindronde van die Eden gemengde viere-kampioenskap deurgedring het. Van links is Attie en Jemima Nortjé, Jaco Nortje, Susan Meyer, Mariska Louw, Japie Combrink, Anri Fick, Trix van Niekerk, Terrence Wilson, Gillian Young en Billy Radloff. Afwesig: Willem Fick.
Die Mosselbaai-rolbalklub se span wat derde plek ingeneem het, verskyn hier saam met Hele Gagiano van Eden-rolbal (heel links). Die spanlede is van links: Tish en Chris Hockney, Patrick Stockwell en Brenda Burger.
Nortje se spanlede was Jamima Nortje, Susan Meyer en Jaco Nortje.
Klubspanne van oor die hele streek het oor 'n paar weke aan die uitspeelwedstryde deelgeneem toe rolbal van 'n uitstekende standaard gelewer is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'