GEORGE ROLBALNUUS - Met nog 'n uitstekende oorwinning, hierdie keer oor Ballbarians, het Outcasts seker gemaak dat hulle hul voorsprong op die punteleer in die Relax Beds & Foam en Riaan de Wit Prokureurs Handelsliga van die Outeniqua-rolbalklub behou.
Met hierdie puik vertoning in die derde ronde van die reeks het die voorlopers hul voorsprong verder gerek en is nou agt ligapunte voor Supporters, die span in die tweede plek.
Hul sege oor Bushwackers het Supporters van die tweede posisie op die punteleer verseker. KTV, wat vir Coastal Armiture Winders geklop het, het na die derde plek opgeskuif en kom nou vanaand (Donderdag) teen Ricoh, wat vir Bearing Warehouse in die vorige ronde verslaan het, te staan.
Outcasts, wat van meet af aan uitstekende rolbal gespeel het, is verreweg die mees suksesvolle groentjiespan. Die ander nuwelinge wat die beste vaar is Ballbarians in die negende plek.
Daar is nog drie bene in die reeks oor en baie skommelings kan nog op die punteleer plaasvind voor die finale ronde op 30 Mei.
Na afloop van die finale ronde word elke speler met 'n gratis biefstukete vergas. Ondersteuners wat ook wil saam smul kan etes teen R100 per kop vooraf by die klub bespreek.
Belangstellendes is welkom om die wedstryde, wat om 18:00 op die bane van die Outeniqua-rolbalklub in Airwayweg, Heatherpark plaasvind, gratis by te woon.
Die klublede berei ligte etes tydens die wedstryde en 'n kontantkroeg is ook beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'