Video
GEORGE ROLBALNUUS - Na 'n fiskale jaar van groot hoogtepunte by die Outeniqua-rolbalklub is Bennie van Loggerenberg tydens die algemene jaarvergadering as nuwe president gekies.
Van Loggerenberg neem die leisels oor by Greg Young wat in sy twee jaar as president van die klub instrumenteel was in uitgebreide ontwikkelings wat die klub se groei na verwagting verder gaan stimuleer.
Die klub het in die afgelope jaar 'n derde baan in gebruik geneem om die toenemende ledetal te huisves. Die uitbreiding het dit ook moontlik gemaak dat veertien meer spanne aan die gewilde handelsliga-reekse kan deelneem wat rolbal as sport ook verder stukrag in die streek gee.
Die stoepgedeelte van die klubhuis is ook aansienlik vergroot wat vir heelwat meer sitplek voorsiening maak.
Addisionele onderdak sitplek tussen twee van die bane is aangebring terwyl permanente sitplekke onder skadunet ook langs die nuwe baan aangebring is.
Die klub het hierdie aansienlike uitbreidings aangebring terwyl talle ander klubs landwyd spook om oorlewing en sommige stedelike klubs hul deure gesluit het.
Jenny Lehman is as visepresident gekies met Sandra Axsel, wat ook president van Eden Nomads is, as sekretaris en Mariette Young as wedstrydsekretaris.
Die bykomende lede is Charleen Steyn, Gideon Swart en Eliana Hattingh.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'