GEORGE ROLBALNUUS - Hoewel die veld byna vol is vir die Outeniqua-rolbalklub se handelsliga wat aanstaande Donderdagaand afskop, is daar nog enkele plekke oop vir laatslapers wat nog wil inskryf.
Die nuwe hoofborg van die reeks is Relax Bed and Foam, maar ander borge kan ook die bemarkingsgeleentheid benut deur pryse vir elke aand se gelukstrekking te skenk.
Baie ondernemings benut die reeks as spanbouaksie vroeg in die nuwe jaar terwyl ander bloot vir die genot daarvan inskryf.
Die kampioene van die vorige reeks, Supporters, sal ook weer in aksie wees en van meet af aan onder druk verkeer om hul titel te verdedig.
Daar is ook verskeie ervare spanne asook heelwat groentjies wat reeds te kenne gegee het dat hulle in aksie gaan wees.
Die wedstryde word elke Donderdagaand oor ses weke gespeel en begin om 18:00. Die klublede berei ligte etes om die hongerpyne te besweer en 'n kontantkroeg is ook beskikbaar.
Belangstellendes is welkom om die wedstryde gratis by te woon by die klub se bane in Airwayweg, Heatherpark.
Navrae oor inskrywings en borgskappe kan gedoen word deur Greg Young by 082 804 8943 te skakel.
Die mikpunt is 28 spanne, maar indien daar meer inskryf, sal die klub se derde rolbalbaan vir die eerste keer in aksie gestel word om al die spanne te huisves.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'