GEORGE NUUS - Die stootskrapers van Kirsten en Tulleken Vervoer (KTV) het gaandeweg hul pad na die kampioenskap in die Hereford Group George & Love 4 Vintage Handelsliga van die Outeniqua-rolbalklub oopgestoot en uiteindelik met die louere weggestap.
Hulle het die finale rots uit die pad gestoot met 'n goeie oorwinning oor die gedugte Vorster Motors in die finaal.
Kort op hul hakke was Mend a Bath wat met hul eie stryd besig was teen The Bowlbarians en uiteindelik so 'n puik oorwinning behaal het dat hulle net twee ligapunte agter die wenners was.
Bowling Stones het ook hul eie aspirasies in die eindstryde lewendig gehou met 'n sege oor Disasters, maar die punte wat hulle opgetel het, was net nie genoeg nie. Hulle met drie ligapunte agter Mend a Bath geëindig.
The Bowlbrians was die nuwelingspan wat die beste in die reeks gevaar het met hul vyfde plek.
Die winterliga met die natgedoude bane na sononder is nie enige rolbalspeler se maat nie en dit was veral die onervare groentjiespanne wat gesukkel het om die gladde balle op 'n klewerige baan onder die knie te kry. Almal het egter hul eerste reeks baie geniet en laat blyk dat hulle uitsien na die volgende reeks wat binnekort aanbreek.
Sommige van die spanne het dit duidelik laat blyk dat hulle reeds hul vere begin regskud vir die komende reeks en gebruik gaan maak van die klub se uitnodiging dat hulle Dinsdagmiddae kan gaan rol om die tegnieke onder die knie te kry.
In weerwil van die koue aande en een been in die reeks wat uitgestel moes word as gevolg van kwaai neerslae het die spelers dit ooglopend geniet en veral die gepaardgaande spanboufaktor waardeer.
Mend a Bath se spanlede wat die kampioenskap met twee punte misgeloop het, is nogtans baie tevrede met hul vertoning. Van links is Dirk Wessels (Hereford Group George), Casper Kombrink, Elardus Erasmus, Lallie Erasmus, Cindy de Jager (Love 4 Vintage) en Johan van Wyk.
Die klub se derde baan sal ook later in die jaar in gebruik geneem word waarna daar plek vir nog 14 spanne sal wees. Klublede hoop gevolglik dat daar al meer voornemende spelers na vore sal kom om die addisionele fasiliteite te benut.
Die reeks is met 'n fees afgesluit toe al die deelnemers en beamptes op 'n gratis biefstukete getrakteer is met lewendige musiek wat die atmosfeer verder jolig gemaak het.
Span KTV, die kampioenspan van die Winterliga, se lede glimlag breed met hul arms vol pryse. Van links: Leon Langeveldt, Hein Koen, Brian Koen en Hannes Muller met die medeborge, Dirk Wessels (Hereford Group George) en Cindy de Jager (Love 4 Vintage) agter.
Finale uitslae:
1 KTV 64; 2 Mend a Bath 62; 3 Bowling Stones 59; 4 Vorster Motors 58; 5 The Bowlbarians 55; 6 Hot Stuff 54; 7 Disasters 53; 8 Kommaweer Stoffeerders 53; 9 Supporters 52; 10 Paintsmiths 52; 11 Ricoh 51; 12 Amec Plastic 51; 13 Bondexcel 48; 14 Butz & Gutz 47; 15 Pik 'n Wyn 47;
16 4 Musketeers 45; 17 Boardware 44; 18 Miskruiers 40; 19 GRM & WJC 39; 20 Hereford Group George 38; 21 Jack's Paint & Hardware 37; 22 Just Property 35; 23 Finovo 35; 24 Angel's 33.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'