GEORGE BOOGSKIETNUUS - Sanlam Privaat Welvaart in George het aangekondig dat hy die plaaslike 3D-boogskutter, Henno Kruger, gaan borg.
Kruger het pas sy Protea-kleure verwerf en gaan Suid-Afrika van 9 tot 12 Augustus by die IBO (Internasionale boogskutterorganisasie) 3D. Wêreldboogskietkampioenskappe by Snowshoe Mountain in West Virginia verteenwoordig.
Dié wêreldkampioenskappe is 'n geleentheid om met die beste skuts ter wêreld mee te ding en ook om te gaan kers opsteek oor hoe dit in Amerika gedoen word.
Bykans 1 200 boogskutters van tien lande sal daar in aksie wees. 3D-boogskiet is die grootste mededingende boogskietsport in die wêreld en is plaaslik en ook internasionaal een van die vinnig groeiendste sportsoorte.
In Suid-Afrika word 3D-boogskiet deur 3D Target SA bestuur en georganiseer. Hulle is ook by die IBO geaffilieer.
Die plaaslike portefeuljebestuurders van Sanlam Privaat Welvaart is van mening dat plaaslike sportlui wat internasionaal kan meeding die nodige ondersteuning van die sakegemeenskap verdien en hulle moedig ander sakelui aan om dieselfde te doen.
Die plaaslike 3D-boogskutter, Henno Kruger (middel), gaan deur Sanlam Privaat Welvaart in George geborg word. By die aankondiging van dié borgskap Maandag was van links: dr. Anton Below, Kobus Huysamen, Henno Kruger, Johan Smit en Johann Scholtz, almal portefeueljebestuurders by Sanlam Privaat Welvaart. Foto: Deidre Kachelhoffer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'