GEORGE ROLBALNUUS - Die George-rolbalklub was die eerste klub in Suid-Afrika wat gereageer het op 'n versoek van Kansa (Kankervereniging van Suid-Afrika) om in Februarie vanjaar, die sogenaamde 'Kankermaand,' 'n rolbaldag ten bate van kankernavorsing aan te bied.
Altesame 90 klubspelers het verlede Dinsdag, 6 Februarie aan die Kansadag deelgeneem.
Al die pryse is deur Personal Trust geborg terwyl die medaljes vir die wenspan deur Kansa voorsien is. Elke speler het, buiten hul inskrywingsgeld, R30 aan Kansa geskenk.
Amalia Thiard, wat Kansa verteenwoordig, het die George-rolbalklub geloof vir hul flinke ondersteuning.
Om 14:00 is 'n klomp pienk ballonne, met name van diegene wat reeds aan kanker gesterf het daarop, deur Thiard die lug ingestuur.
Die spel het bestaan uit drie wedstryde van 12 skofte elk. Spanne is uit drie spelers elk saamgestel. Almal het die dag se rolbal, wat in 'n ontspanne gees gespeel is, in die heerlike sonskynweer geniet. Die algehele wenners van die dag was die span bestaande uit Gerrie van Rensburg, Joy Embling en Peggy Bentall.
Rolbalspelers van die George-rolbalklub kyk hoe ballonne in die lug losgelaat word ter nagedagtenis aan diegene wat aan kanker gesterf het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'