EDEN DISTRIKNUUS - Die Eden-sportraad en die Wes-Kaapse departement van sport en kultuur is weer opsoek na nominasies vir sportlegendes in die Eden-distrik.
Volgens Dave van der Walt, sekretaris van die Eden-sportraad, vereer hulle jaarliks persone wat hul lewe aan sport gewy het.
"Die legendes is diegene wat alles in hul geliefde sportkode ingesit het. Hulle het gehelp met die talentontwikkeling, gesukkel om fasiliteite en borge te kry en hulle was soms die spanbestuurders, afrigters, busbestuurders alles in een," het hy gesê.
Van der Walt sê hulle versoek graag die publiek om 'n rol in die proses te speel.
"Help ons om hierdie legendes te identifiseer."
Die kriteria vir sportlegendes is:
• persone wat 'n beduidende bydrae tot sport in hulle leeftyd gelewer het, verkieslik ouer as 55 jaar en verkieslik ook afgetreë;
• persone wat as sport-ikone in hulle gemeenskappe beskou word;
• persone wat 'n rol gespeel het in die ontwikkeling van sport voor 1992;
• persone wat voorheen nog nie erkenning geniet het as gevolg van hulle geslag, ras en geografiese gebied nie;
As so 'n persoon alreeds as legende vereer is, kan hulle nie weer genomineer word nie.
Nominasievorms kan by Dave van der Walt by sportcouncil.eden@gmail.com aangevra word en die sluitingsdatum is 20 Augustus.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'