GEORGE ROLBAL-NUUS - Die George Sewes-rolbaltoernooi, wat oor 'n tydperk van tien maande elke tweede Dinsdag van die maand by die George-rolbalklub gespeel is, is afgehandel.
Die span van Wendy Murray, Jill Power, Alida Meyer en Alhan van der Merwe was vanjaar se algehele wenners. Nog 'n George-span van Hannes Muller was tweede terwyl die Oudtshoorn-span van Johan Fernhout in die derde plek geëindig het.
Die groot dryfkrag en hooforganiseerder is die legendariese Akker van der Merwe van George, wie se kleinseun al op haker vir die Springbokke uitgedraf het. Hy is fluks bygestaan deur John Mundell, Graeme Pollock, Johan Meyer en ander lede van die George-rolbalklub.
Spelers van Oudtshoorn, Outeniqua en ander omliggende klubs het elke maand by George aangemeld om aan hierdie genotvolle en gewilde toernooi deel te neem.
Die wenspanne het maandeliks wyn van uitmuntende gehalte gewen.
Terselfdertyd is daar ook maandeliks oor 'n tydperk van 11 maande 'n pare-kompetisie gespeel, wat insgelyks deur Akker van der Merwe en sy span helpers gereël en aangebied is. Benewens die ruim wynpryse, wat maandeliks aan die wenners van die dag oorhandig is, het die algehele wenners ná voltooiing van die laaste wedstryde in November waardevolle wynpryse ontvang. Daarbenewens het elke speler wat in die laaste wedstryd op 13 November gespeel het, 'n bottel topgehalte wyn gekry.
Die spanne is maandeliks getrek wat beteken het dat spelers selde met dieselfde paremaat gespeel het. Elke speler se individuele telling is as krediet na die volgende wedstryd oorgedra.
Die wenners van die pare-kompetisie vanjaar is drie Georgiete: Petro Breedt die wenner met Christine Vermaak in die tweede plek en Dirk Breedt derde.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'