GEORGE NUUS - Emmaüs Beskermde Werksentrum vir Intellektuele Gestremde Volwassenes het op 2 Maart, in samewerking met PSG Wealth, 'n baie suksesvolle gholfdag by Kingswood gehou.
"Ons is baie dankbaar vir elke speler wat deelgeneem het, asook aan Kingswood vir die vriendelike ontvangs en flinke reëlings tydens die dag. Skenkings vanaf Marius Kruger van PSG en Van Rensburg Slaghuis, Henties, Grocery Express en Kloppers het ook bygedra om ons kostes laag te hou sodat Emmaüs 'n goeie finansiële hupstoot kon kry om die jaar mee af te skop," sê Elsabe Badenhorst, die sentrum se bestuurder.
Die gholfdag was die eerste van 'n paar fondsinsamelingsprojekte wat deur Emmaüs vir hierdie jaar beplan is. Die manne-afvalgilde het ook weer begin met aansitetes. Vir meer inligting hieroor, bel Natalie by 044 873 4196.
Daar gaan steeds wegneemafvaletes verkoop word vanaf 16:00 elke eerste Dinsdag van die maand. Die publiek is welkom om te kom koop.
Die sentrum se volgende twee groot geldinsamelingsprojekte is 'n damesoggend op 6 Mei en die Wintermark op 3 Junie. Nader aan die tyd sal meer inligting hieroor gegee word.
Die publiek word genooi om Emmaüs in Memoriumstraat te besoek vir pragtige geskenke, houtwerk en handwerk, asook vir restourasiewerk aan meubels, riempies van stoele en banke en vele meer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'