OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Albertus Kennedy, hoof- uitvoerende beampte van SWD-krieket, het vandeesweek oor 'n koppie koffie aan Oudtshoorn Courant bevestig dat planne om SWD se hoofkantoor na George te skuif, steeds in proses is ondanks die onlangse aankondiging dat die Oudtshoorn-sportstadion (Rec) in die toekoms as die Six Gun Grill Rekreasie-sportgronde bekend sal staan.
Volgens Kennedy is Six Gun Grill reeds vir twee jaar hul grootste ankerborg en het SWD-bestuur 'n geleentheid gesien om stadion-naamborgskap aan hulle toe te ken met die goedkeuring van die Oudtshoorn-munisipaliteit.
Die stadionregte se borgskap sal volgens Kennedy egter op 'n jaarlikse basis hersien word.
Kennedy het bevestig dat hierdie stadion-naamborgskap 'n groot finansiële inspuiting vir SWD teweeg bring en dat SWD se verhuising na George ook 'n groot aansporing vir die borg was weens die kommersiële voordele wat daaruit spruit.
"Enige borg wat betrokke raak by sport soek uit die aard van die saak "return op investment" in terme van blootstelling op alle platforms en in hierdie aspek is Six Gun Grill baie tevrede met wat SWD bied. Op die langtermyn beteken dié stadion-naamborgskap onder andere dat ons professionele spanne beter voorberei kan word en prysgeld vir ons klubkompetisies kan ook nou aansienlik verhoog word," het Kennedy gesê.
Hoe vorder SWD se verskuiwing na George?
"Op hierdie stadium is SWD wagtend dat ons voorlegging eers formeel deur die George-munisipaliteit goedgekeur moet word. Die skuiwing is egter nie van die baan nie en hoewel ons op direksievlak nog spesifieke aspekte rakende bekostigbaarheid, volhoubaarheid en risko's aanspreek, is die skuif steeds in proses. Dit is wel ietwat teleurstellend dat ons dit nog nie kon afhandel nie, want met Krieket Suid-Afrika se nuwe T20-liga, kon ons nuwe stadion in George groot voordeel as gasheer daaruit getrek het."
Hoekom die nuwe naam Six Gun Grill Garden Route Badgers?
Kennedy het verduidelik dat alle sportspanne in die wêreld se handelsnaam sinoniem is met hul identiteit as span en het SWD besluit dat die ratel (honey badger), weens sy meedoënlose aggressiewe eienskappe, SWD-krieket die beste verteenwoordig.
Die proses om die naam te kies was volgens Kennedy inklusief en het SWD eers besluit om 'n hoogaangeskrewe maatskappy aan te stel om 'n naam te kies nadat publieke deelname nie 'n gepaste naam kon oplewer nie.
"Die naam, Garden Route, se internasionale bemarkingswaarde is iets wat SWD-bestuur ook intensief bespreek het; vandaar die toevoeging," het Kennedy benadruk.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'