TUINROETE NUUS - Inwoners van Oudtshoorn het die afgelope naweek op sosiale media met ongeloof gereageer op die nuus dat SWD-krieket se hoofkantore na George skuif.
Hierdie aankondiging is verlede Donderdagaand tydens die Oudtshoorn-sakekamer se netwerkaand deur Albertus Kennedy (hoof- uitvoerende beampte van SWD-krieket) gemaak.
Volgens Kennedy sal dié beoogde skuif binne die volgende twee of drie jaar materialiseer afhangend van die voltooiing van SWD se nuwe krieketveld en nodige infrastruktuur in George en amptelike goedkeuring deur George-Munisipaliteit.
"Ons plaaslike munisipaliteit is reeds in kennis gestel en ek wil dit op rekord plaas dat ons vir die afgelope 16 jaar wonderlike werksverhoudinge op Oudtshoorn opgebou het."
Kennedy sê dat hierdie besluit weens strategiese redes geneem is om die finansiële volhoubaarheid van SWD-krieket te verseker.
"Soos met enige besigheid moet ons selfonderhoudend wees sodat ons op die einde van die dag met die swaargewigte kan boks. Nie net vir die gekontrakteerde spelers se salarisse nie, maar ook om gehalte binnenshuise fasiliteite te bekom en te onderhou asook om kwaliteit personeelaanstellings te maak.
"Hierdie faktore het ons genoodsaak om na die groter prentjie te kyk en dus kan ek die publiek verseker dat hierdie besluit nie ligtelik geneem is nie," het hy bygevoeg.
Intussen sal wedstryde en oefeninge steeds soos normaal voortgaan op Oudtshoorn.
Die volgende hoë-profielkrieketwedstryd by die Oudtshoorn-sportterrein (Rec) sal op 17 Januarie 2021 tussen die Warriors en Cape Cobras plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'