WES-KAAP NUUS - Na 'n beskeie begin as deel van die Oudtshoorn Atletiek Vakansiebyeenkoms, het die straatmyl-idee gegroei tot 'n straatmylreeks wat gedurende die Desembervakansie in drie wedlope en in drie Suid-Kaapse dorpe aangebied word.
Die afgelope twee jaar het die fietsry-komponent bygekom en 'n nuwe kleur aan die reeks gegee.
Vanjaar word ook spesiale gemeenskapsprojekte op sekere strande aangebied om die algemene vakansiepubliek ook te betrek.
Vir die eerste keer word medaljes toegeken - en dit saam met 'n prysgeldbeurs van R80 000 gaan die top 1500/myl-atlete beslis na die Eden Distrik stroom.
Die uniekheid van die reeks lê reeds in die feit dat elke dorp sy unieke straatmyl-identiteit behou, maar tog deel vorm van die Bestmed Eden Straatmylreeks deurdat die Grand Prix-wenner oor al drie byeenkomste bepaal word.
Die eerste been van die reeks word op Oudtshoorn aangebied en staan bekend as die Bestmed Klein-Karoo straatmyl.
Dit vind in Baron van Reedestraat plaas op Saterdag 16 Desember.
Die tweede been vind op die NMU George Kampus Maandag 18 Desember plaas en staan bekend as die Bestmed Nelson Mandela Universiteit straatmyl.
Die derde been vind op 20 Desember by die ATKV-terrein op Hartenbos plaas en staan nou bekend as die Bestmed-ATKV straatmyl.
Inskrywings word aanlyn gedoen en sal binnekort oop wees.
Besoek www.edenmiles.co.za. Alle reëlings rondom die byeenkomste en akkommodasie kan op dié webtuiste gevind word.
Vir enige navrae kontak die organiseerders deur www.edenmiles.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'