GEORGE NUUS - Meer as 500 atlete het op Vrydag 18 September aan die vierde jaarlikse Kwagga 100 10 km- en 5 km-pretlope by Hoërskool Outeniqua se sportterrein deelgeneem.
Hoewel reën aanvanklik vir onsekerheid gesorg het, het die wedlope uiteindelik onder bykans ideale omstandighede plaasgevind.
Die roete moes egter op kort kennisgewing aangepas word omdat die atletiekbaan weens die reën te nat was.
In die mansafdeling het Fancourt-atletiekklub se Bernardo Frederick eerste geëindig, gevolg deur sy klubgenote Jerome Ferland in die tweede plek en Willard Jussa in die derde plek.
Die vroueafdeling is deur die junior Nedbank-atleet Keza Matthysen gewen. Jeanetta van den Berg van Outeniqua Harriers was tweede, met Cindy Viljoen van Nedbank-atletiekklub derde.
Volgens Johann du Preez, een van die organiseerders, het die deelname van verskeie provinsiale atlete aan die Voet van Afrika-wedlope elders in die Suid-Kaap die geleentheid gebied vir ander atlete om hul staal te wys.
"Die Kwagga 100 is ook bekend vir sy groot hoeveelheid gelukstrekkings. Vanjaar is hardloopskoene en pette van asics Suid-Afrika ter waarde van meer as R60 000 onder deelnemers uitgedeel, wat die wedloop werklik uniek maak," sê Du Preez.
Die organiseerders sien reeds uit na 2027 wanneer atlete weer die uitdaging van die Kwagga 100 kan aanpak.
Van links is Ters Gilomee (eienaar van Topgear Sport, die hoofborg), Kezia Matthysen (Nedbank-atletiekklub, wenner van die vroueafdeling), Cindy Viljoen (Nedbank-atletiekklub, derde), en Jeanetta van den Berg (Outeniqua Harriers, tweede).
Van links is Ters Gilomee (Topgear Sport hoofborg), Bernardo Frederick van Fancourt AC (wenner), Gerome Ferland van Fancourt AC (tweede) en Willard Jussa van Fancourt AC (derde).‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’