GEORGE NUUS - Sy mis dit glad nie om nie meer premier te wees nie. Sy is verlig om nie meer daardie las te dra nie.
So het Helen Zille, voormalige Wes-Kaapse premier, aan die George Herald vertel.
Vir haar het 'n nuwe lewe aangebreek na die algemene verkiesing wat al meer as twee maande gelede plaasgevind het.
Zille het gesê sy geniet nou net elke dag die lewe en hou heerlik vakansie. So byvoorbeeld gaan sy en haar man op uitstappies in die natuur. Op die oomblik woon hulle tydelik in Bloubergstrand naby Kaapstad.
Sy bly wel daagliks op hoogte van plaaslike en internasionale politiek. "Een van die voordele om nie meer premier te wees is dat ek nie elke oggend so vroeg hoef op te staan nie. Ek het nou ook meer tyd om saam met my kleinkinders te bestee."
Sy sê daar het juis op 1 Julie nog 'n kleinkind, 'n dogtertjie, bygekom. Dit was vir haar baie besonders want dit was op dieselfde dag as haar pa se verjaarsdag. Sy is baie opgewonde oor haar kleinkinders.
Daar is by Zille geen twyfel dat in 'n mens se lewe is daar 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan. "My tyd om te gaan, het aangebreek. Ek is vol vertroue dat Alan Winde, die nuwe premier, 'n goeie premier sal wees."
Zille mis ook nie die aktiewe betrokkenheid by politiek nie.
Stilsit is egter nie deel van Zille se woordeskat nie. Sy het "planne" en wil in die stadium nie die aap uit mou laat nie. Sy sal binnekort daaroor praat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'