GEORGE NUUS - Gerugte dat die drie voormalige Good-raadslede in die George-stadsraad wat na die DA oorgestap het, besluit het om terug te keer na hul oorspronklike party, is nie waar nie, sê Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse DA-leier.
Hy het die gerugte as vals beskryf.
Simmers het kommentaar gelewer nadat verwarring ontstaan het oor hul besluit om 'n nuwe politieke tuiste in die DA te vind.
Theresa Jeyi, Richard Hector en Neville Louw het Vrydag 21 April bedank en by die DA aangesluit. Dit raak wyke 16, 20 en 27 en tussenver-kiesings moet nou in die wyke plaasvind.
Dit woel nog steeds agter die skerms en die stof het nog nie gaan lê nie. Good het gister, Woensdag 3 Mei, by monde van Brett Heron, LP en sekretaris-generaal van die party, gesê uit die jongste gesprekke wat die partye met die drie betrokkenes gevoer het, is dit duidelik dat hulle nie amptelik as raadslede bedank het nie.
Good het die munisipaliteit en die OVK daaroor ingelig. Simmers het gesê voorbereidings word reeds vir die tussenverkiesings gedoen.
Jeyi het Woensdag gesê sy het oorgestap na die DA. Sy beskou die saak as afgehandel en sy gaan haarself beskikbaar stel om as 'n DA-kandidaat oorweeg te word.
Daar is betroubaar verneem dat dié bedankings by Sean Snyman, die speaker ingedien is. Hy het dit toe blykbaar deurgegee na dr. Michelle Gratz, die munisipale bestuurder.
Luidens die George-munisipaliteit se webtuiste is die drie betrokke wyke vakant. Herron het gesê volgens die party se inligting is Helen Zille na George laat kom om in te gryp. Good glo die drie betrokkenes is verantwoordbaar aan hul gemeenskappe en hulle moet optree in die beste belang van hul gemeenskappe.
As die DA die drie tussenverkiesings wen, sal dit beteken dat die DA nie meer sy twee koalisievennote, die VF Plus en die ACDP nodig het om in beheer van die stadsraad te wees nie.
Ingeligtes het egter gesê in so 'n situasie is dit onwaarskynlik dat die DA die
VF Plus en ACDP eenkant sal skuif. Daar is op nasionale vlak ooreenkomste tussen die partye wat ander stadsrade raak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’