GEORGE NUUS - 'n Raadslid van die George-stadsraad is in die sop nadat hy sy skootrekenaar, wat aan raadslede gegee word, verpand het en toe 'n vals diefstalklag by die polisie afgelê het.
AIC-raadslid Abel Kiwit, het sy skootrekenaar op twee verskillende geleenthede verpand.
Die laaste keer, in Desember 2016, het hy egter nie weer die rekenaar teruggekoop nie.
Die rekenaar het na die spertyd waarteen hy dit moes terugkoop, op die winkelrakke beland.
Dit is in Februarie 2017 deur 'n lid van die publiek gekoop.
Maande later het Kiwit egter 'n klag van diefstal by die polisie aanhangig gemaak.
Die klag is in Junie 2017 geopen, waarin hy aanvoer dat sy rekenaar in April (2017) gesteel is.
Die voorval sou glo plaasgevind toe hy in 'n taxi onderweg was tussen Port Elizabeth en George. Die rekenaar is glo uit 'n sleepwa agter die taxi gesteel.
Op 'n vraag aan die munisipale bestuurder, Trevor Botha, of die munisipaliteit die saak ondersoek en teenoor die raadslid gaan optree, is die volgende kommentaar ontvang: "Enige klagtes of bewerings word administratief hanteer en die munisipaliteit van George sal nie enige inligting openbaar maak of sulke sake deur die media hanteer nie."
Kolonel AB Kriga, stasiebevelvoerder van Conville-polisie, het bevestig dat Kiwit die diefstalsaak geopen het.
"'n Klag van meineed is teen die klaer in die diefstal geopen. 'n Arrestasie mag moontlik volg," het Kriga gesê.
Kiwit het Maandag by navraag gesê niemand het hom tot dusver oor die saak gekontak nie.
"Ek was baie nalatig, ek is glad nie trots op my aksies nie, ek was nie voorbeeldig nie," het hy gesê.
"Ek het reeds onderneem om die skade terug te betaal. Ek is jammer oor my optrede, want dit was onbetaamlik. Ek is ook maar net 'n mens."
Op 'n vraag aan wie hy die onderneming gemaak het, het Kiwit gesê hy wag op kommunikasie van die raad se speaker, wat nog nie verkies is nie.
"Sodra ek kommunikasie van enige owerheid ontvang, sal ek daarop reageer."
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'