Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Na byna 25 jaar roep Piet van der Hoven, ook bekend as Piet Politiek, die banke van die George-stadsraad vaarwel, maar dis beslis nie die einde van sy betrokkenheid in die politiek nie.
Nadat die ANC net een proporsionele lid op 1 November verkies kon kry, het die 68-jarige Van der Hoven, 'n ANC-lid, sy stoel op die raad verloor. Hy was een van die mees senior lede van die stadsraad en het ook op die raad van die Garden Route-distriksmunisipaliteit gedien.
In George het die ANC nege wyke gewen en net een proporsionele lid verkies gekry.
Van der Hoven het diep wortels in George en kom oorspronklik van hier. Hy het later aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer waar hy sy vrou, Tosca, in die 70's ontmoet het.
Tosca is gebore en getoë in wat destyds bekendgestaan het as Suidwes-Afrika. Piet en Tosca het beide later in Suidwes-Afrika gaan woon waar hy onder meer die uitvoerende hoof: televisie van SWAUK was. Hy het ook die onafhanklikheid van die land op 21 Maart 1990 beleef toe dit Namibië geword het.
Einde 1991 het hy besoek aan George gebring. In daardie stadium was hy op die hoogste sport van sy loopbaan in Namibië. Hy het 'n videowinkel in George gekoop en in Maart 1992 het hy en Tosca hulle hier kom vestig. Een van die eerste dinge wat hy gedoen het was om by die ANC aan te sluit.
Video: Piet van der Hoven nie klaar met die politiek nie
In daardie dae het sy paaie met 'n latere kollega in die ANC, Myron Rabinowitz gekruis. Uiteindelik het hulle saam in die George-stadsraad gedien.
Van der Hoven is 'n baie lojale ANC-lid. Al is hy nie weer verkies nie, dien hy steeds op die streekbestuur van die ANC in die Suid-Kaap. "Politiek is in my bloed."
Hy sal gaan waar die ANC hom ontplooi. Daar is baie voertuie om verandering te bewerkstellig, maar vir hom bly politiek by verre die belangrikste.
Van der Hoven glo nie die einde van die pad het vir die ANC aangebreek nie. Wat die afgelope tyd gebeur het is volgens hom die draaipunt en hy glo die ANC sal daaruit leer. Net soos enige ander party maak die ANC ook foute. "Daar is egter nie nog 'n party soos die ANC wat sy eie foute regstel nie."
Hy beskou steeds die ANC as die enigste hoop vir Suid-Afrika en die enigste voertuig vir 'n verenigde demokrasie. "Sonder pres. Cyril Ramaphosa is Suid-Afrika verlore," waarsku Van der Hoven.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'