GEORGE NUUS - 'n Tugverhoor teen Good-raadslid Richard Hector, is tot 20 Oktober uitgestel. George-speaker, Sean Snyman, het bevestig dat dit die voortsetting is van die verhoor van 26 September.
Die saak handel oor 'n geïntegreerde ontwikkelingsplanvergadering (GOP) by die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal waar Hector glo 'n senior bestuurder, dr. Kosie Haarhoff, in 'n gesprek te na gekom het. Haarhoff is die adjunkdirekteur vir ekonomiese ontwikkeling, GOP en wykskomitees.
"Lede van die party moet nog getuienis in die saak lewer. Dit is nou al die soveelste saak teen raadslid Hector. Die raadslid ontken al die beweringe wat gemaak word en bevraagteken weereens speaker [Sean] Snyman se motiewe om so 'n saak verder te neem," het Good se streekwoordvoerder, Donovan Saptoe, gesê.
Senior bestuurder dr. Kosie Haarhoff
"Ons is nou al almal bewus van die aan-slag op Hector, omdat hy so uitgesproke is in die raadsaal. Die aanklag is niks anders as 'n aanslag op 'n wyk wat nie in die DA se besit is nie." Hector is die wyksraadslid van wyk 27, wat 'n groot deel van Pacaltsdorp insluit.
Volgens Saptoe moes getuies in die saak - waaronder Good-raadslid Rosa Louw - op die eerste verhoordag, verlede Maandag, 26 September, buite in die koue sit.
"Dit is die behandeling wat George-munisipaliteit nou selfs raadslede toesnou. Natuurlik is daar ook 'n klagte daaroor gelê, maar ons sal moet sien of die speaker dit ook gaan ondersoek," het Saptoe gesê.
Snyman het egter gesê die Good-party het die gemeenskap van Pacaltsdorp in die openbaar versoek om by die munisipaliteit bymekaar te kom, ter ondersteuning van raadslid Hector.
"Maatreëls is dus ingestel in die geval van 'n onwettige byeenkoms. Die name van die komiteelede is aan wetstoepassing voorgelê om orde te verseker. Geen lys van getuies is egter aan die voorsitter van die tugkomitee voorgelê nie."
Good-streekwoord-voerder Donovan Saptoe
George-speaker Sean Snyman
Vorige artikel:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'