Gallery
GEORGE NUUS - Wanneer die nuwe stadsraad van George aanstaande week die eerste keer vergader sal daar nuwe lede wees, maar ook ou hande wat al in die verlede daar gesit het.
Van dié raadslede het in die verlede onder die DA-vaandel hulle stoele volgesit, maar is nou in die raad vir ander partye.
Onder hulle is Gert Niehaus (VF Plus), Chris Neethling (VF Plus) en Marcell Kleynhans (PBI). Theresa Fortuin was voorheen 'n Icosa-raadslid en sy kom nou terug as wyksraadslid vir Good.
Opmerklik in die nuwe raad is die afwesigheid van vorige bekende lede.
Een van die eerste take van die nuwe raad sal wees om 'n nuwe speaker te kies. Die dienende speaker, Gerrit Pretorius, was nie in 'n verkiesbare posisie op die proporsionele lys van die DA nie.
Van die ander lede wat nie terugkeer nie is Piet van der Hoven (ANC), Johan Stander (DA) en Liza Stroebel (DA).
Vir die eerste keer in baie jare sal Icosa ook geen verteenwoordiging in die raad hê nie. Voormalige Icosa-raadslid Wilbert Harris, het gesê hy gaan die raad mis, maar dat Icosa steeds 'n waghondrol het om te speel.
Fotogalery: Ons Stadsraad: Wie is in en wie is uit?
Hendrik Ingo, wat tot einde Oktober 'n DA-raadslid was en in die verkiesing as 'n onafhanklike kandidaat gestaan het, kom ook nie terug nie.
Beide Niehaus en Neethling was Dinsdag positief oor hul terugkeer en glo hulle sal bydraes kan lewer.
Kleynhans het gesê hy ken die binnewerking van die raad en hy sal 'n bydrae kan lewer.
Fortuin het gesê sy is baie opgewonde. Sy keer terug as 'n wyksraadslid. "Dit was nie moeilik nie. Die mense het gesê jy het jouself bewys. Ons het deur reën en wind vir die mense opgestaan."
Onder die nuwe raadslede is Donovan Saptoe, die voormalige verkeershoof van George wat Good verteenwoordig, en Sedric Smart wat die Patriotic Alliance se vaandel dra.
Pretorius het gesê in dié stadium is hy klaar met politiek en kyk vorentoe. "Ek kyk nou na geleenthede buite die politiek."
Van der Hoven, wat 23 jaar lank lid in die George-stadsraad onder die vaandel van die ANC was, het gesê hy keer nie terug nie omdat hy nie herkies is nie. Op die vraag hoe hy daaroor voel het hy geantwoord: "Ek het nog nooit politiek gejoin nie, politiek het my gejoin. Dit is maar hoe politiek werk.
"Die een oomblik is jy hoog en die ander oomblik is jy droog. Maar ek is nog lank nie klaar met politiek nie, en verseker nie klaar met ANC-politiek nie."
UIT: Piet van der Hoven (ANC)
Ingo het gesê hy is vir eers klaar met die politiek. Hy gaan die raad mis. "Ek het 'n passie vir die gemeenskap en wil die mense dien."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'