GEORGE NUUS - Gelukwense, voordele vir die streek en selfs 'n waarskuwing. Dit is van die uiteenlopende reaksie wat uitgespreek is na die aanstelling van Patricia de Lille in die kabinet van Cyril Ramaphosa.
De Lille, die Good-leier, se aanstelling verlede week as nuwe minister van openbare werke en infrastruktuur, het baie mense onkant betrap.
De Lille self het 'n paar uur na haar aanstelling bekend gemaak is, aan die George Herald gesê sy was baie verras. Toe Ramaphosa haar gevra het kon sy nie nee sê nie.
Volgens haar was sy nog altyd bereid om die land in enige kapasiteit te dien. Sy glo mense moet Ramaphosa se hande vat. "Hy het die land weer hoop gegee."
Sy het benadruk dat Good steeds sy opposisie rol vervul en sy bly die party se leier. Bazil Petrus, Good se streekkoördineerder, het gesê die party verwelkom haar aanstelling. Good het dit nie verwag nie.
"Ons glo haar aanstelling kan baie beteken vir die streek en sy mense."
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê die DA hoop van harte dat Ramaphosa se kabinet en Alan Winde, Wes-Kaapse premier se kabinet suksesvol sal wees oor die volgende vyf jaar. "Ons het dit regtig in die land en provinsie nodig dat mense optimaal dinge sal doen. Dit sluit in die nuwe minister van openbare werke infrastruktuur."
Uit die oogpunt van die Wes-Kaap en spesifiek die Suid-Kaap sal dit duidelik wys wat die keuse is wat die DA bied teenoor die ANC en sy vennote.
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek.
Virgill Gericke, PBI-leier, het gesê dit is in die stadium nie duidelik of dit samewerking of 'n koalisie is nie. Die voorwaardes is nie uitgespel nie." As die voorwaardes uitgespel was, sal ek 'n meer ingeligte mening kon gee."
Volgens Gericke is die groot vraag of die Good-ondersteuners en -kiesers gekonsulteer is. De Lille het tydens die verkiesingsveldtog aangedui Good sal nie met die ANC saamwerk nie. Mense het vir Good gestem.
Virgill Gericke, PBI-leier.
Gericke het gesê die PBI is ten gunste van samewerking met enige party wat die belange van die kiesers en benadeelde gemeenskappe vorentoe neem. Dit (die samewerking) moet wel duidelik vooraf uitgespel word.
Bazil Petrus, Good se streekkoördineerder.
Diswayne Maarman, streekvoorsitter van die EFF in die Suid-Kaap, het De Lille gelukgewens met haar aanstelling.
Hy het gesê De Lille kan dalk geskik wees vir die pos, gegewe haar ondervinding. Die EFF sal haar dophou en kyk hoe sy haar verantwoordelikhede uitoefen.
Volgens hom kan sy 'n verskil maak in veral byvoorbeeld die Wes-Kaap ten opsigte van meer lae inkomste behuising en toegang tot grond vir die ontwikkeling van arm gemeenskappe.
Dr. Pieter Mulder.
Lees 'n verwante artikel: De Lille wants to fast track release of State-owned land for housing
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'