GEORGE NUUS - Daar is lewe na die politiek en die raadsale van die stadsrade. Voormalige lede van die George-stadsraad en die Garden Route-distriksmunisipaliteit, wat dit nie gemaak het in die plaaslike regeringsverkiesing op 1 November nie, is weer druk besig om aan 'n nuwe lewe te bou.
Gerrit Pretorius, (65), die voormalige speaker van die George-stadsraad en DA-lid, het gesê hy het nie aftrede in sy DNS nie "Ek is nie iemand wat kan stilsit nie."
Hy gaan wag tot vroeg in die nuwe jaar en dan werklik besin oor die pad vorentoe. Daar is egter reeds planne in die pyplyn. Dit sluit opleidings-fasilitering vir Salga in. Dit is ook moontlik dat hy in die eiendomsbedryf betrokke kan raak. "Ek gaan aktief wees."
Een van die dinge waaraan hy gewoond moes raak is dat sy selfoon nie die heeltyd lui nie.Gerrit Pretorius
Johan Stander, (72), wat op die burgemeesterskomitee gedien het en 'n DA-lid, het gesê die lewe moet aangaan. Hy speel Woensdae en Saterdae tennis en hy rook nie. "Die plan is verseker nie om stil te sit nie."
In die politiek het hy baie goed geleer wat hom as mens ontwikkel het, maar hy ook dinge beleef wat uiters teleurstellend was.
Johan Stander
"Ek is baie dankbaar vir wat ek geleer het." Hy sou baie graag nog betrokke wou wees by die George-munisipaliteit.
"Daar is nog baie onafgehandelde sake."
Stander berus by sy nuwe situasie en wens die nuwe span sterkte toe. Hy is van voorneme om met sy eiendomsonderneming voor te gaan.
"Vir my gaan dit oor die gemeenskap van George."
Charlie Williams, (65), 'n ANC-lid het gesê is hy beslis klaar met politiek. Hy fokus nou op die kerk, New Life in Christ ministries, waarby hy betrokke is.
Volgens hom is daar 'n lewe na die politiek. Politiek was vir hom 'n positiewe ervaring. Hy glo 'n toekoms in die Here is altyd positief en daar is 'n positiewe toekoms vir die land.
Williams is nog steeds 'n ANC-lid. "Ek sal doodgaan as 'n ANC-lid."
Charlie Williams
Liza Stroebel, (69), 'n DA-lid, wat in die stadsrade van George en die distriksmunisipaliteit gedien het, het gesê daar is 'n tyd vir alles in die lewe.
Daar is 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan. "My vyf jaar in die politiek is verby. Die afgelope vyf jaar was 'n baie opwindende seisoen in my lewe. Ek het ontsettend baie geleer in die politiek."
Sy is nou weer betrokke by die privaat sektor. Stroebel besit haar immigrasie onderneming en is ook betrokke by 'n kerk.
Voorts is sy betrokke by huweliksbeves-tiging, huweliksbeplanning en sy is ook 'n algemene berader.
"Ek is nie verveeld nie." Sy mis die politiek, maar het haar losgemaak daarvan.
Net soos Stroebel het Piet van der Hoven (68) ook in die stadsrade van George en die distriks-munisipaliteit gedien. Hy is 'n ANC-lid. Van der Hoven was byna 25 jaar 'n stadsraadlid.
Piet van der Hoven
Hy benadruk dat hy uit die raad is, maar nie uit die politiek.
Hy is steeds betrokke by die ANC-streekbestuur en as daar 'n verkiesing is vir die bestuur, sal hy weer beskikbaar wees.
"My passie is om die gemeenskap te dien en ek sal dit steeds doen."
Van der Hoven het 'n persoonlike lewe.
Hy bly besig met huishoudelike en persoonlike aktiwiteite wat tot dusver agterweë gebly het.
"Ek is alles behalwe verveeld. Ek wens eintlik ek kan met vakansie gaan."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'