"Dit was 'n baie moeilike besluit om hom van kant te maak, maar 'n nugter besluit wat nie deur sentiment beïnvloed is nie, moes geneem word."
“’n Leeu wat eenmaal onderdeur ’n draad gekruip het, sal dit altyd weer doen,” sê Fayroush Ludick, woordvoerder vir SANParke se Border-groep van parke.
“Sylvester het uitgevind dat dit moontlik is en hy gaan dit weer doen. Daarom help dit ook nie om hom na enige ander park te skuif nie, hy gaan net weer deur ’n heining kruip.”
Indien dit gebeur is daar geen waarborg dat die leeu nie ’n mens sal aanval nie, want hy beskou ’n mens bloot as ’n maaltyd. “Dit is ons verantwoordelikheid om te verhoed dat dit gebeur.”
Sylvester het tydens sy vorige omswerwinge ook geleer dat vee ’n makliker prooi as wildsbokke is. Hy het wild en vee gevang en Maandag, die eerste dag wat hy weer buite die park was, ’n bees gevang.