Du Toit was welbekend in onderwyskringe en landbou, maar veral in die Suid- en Wes-Kaap as pa en mentor van honderde oud-Oakdalers.
Dit is hier aan die voet van die Slapende Skoonheid waar hy en sy vrou, Joan hulle in 1979 as skoolhoof-egpaar van die Hoër Landbouskool Oakdale gevestig het. Hy was reeds op 31-jarige ouderdom as skoolhoof van die Middelbare Skool Vosburg en hierna ook as skoolhoof van Hoërskool Indiwe aangestel voor hy op Oakdale diens aanvaar het.
Hy was 'n onderwysman in murg en been: In sy afskeidsboodskap met aftrede in September 1996 het hy die volgende gesê: "Ons almal se trots is daardie groep bloubaadjies wat hulself 'BULLE' noem. Dit was suiwer genot en 'n wonderlike voorreg om 'n groot klomp Oakdalers vanaf 'n klein standerd 6-seuntjie te sien ontwikkel tot 'n pragtige jong man."
Dit was op Oakdale waar die Bulle opgesien het na 'n 'pa' wat kon prys, aanpraat, dissiplineer, maar ook omgee en liefde betoon. Hy was hy bekend as die Chief en so sal alle oud-skoliere in sy tyd hom onthou. Dit was sy ideaal om elkeen op sy naam te noem en ook so te onthou, selfs 20 jaar na aftrede.
Die 17 jaar waartydens Du Toit hier skoolhoof was, sal onthou word as die tyd waar verskeie verbeterings aangebring en veranderinge gemaak is op akademiese, sport-, sowel as landbougebied. Met sy positiewe gesindheid en deernis vir die jeug, het hy daarin geslaag om 'n skool te begelei tot nuwe hoogtes wat bekendheid verwerf het ver buite die grense van Riversdal.
Onder sy leiding het die skool gegroei tot 'n nuwe vlak van prestasies, trots en dissipline. Personeel wat onder hom gewerk het, beklemtoon sy besondere menseverhoudings en sin vir omgee. Dit was sy balans tussen werk en genieting wat duidelik uitstaan. Sy hengeluitstappies saam met vriende en personeel was iets besonders.
Sy onderwysloopbaan was vir hom en Joan 'n roeping, ryk aan mooi ervaringe, mooi mense en mooi kinders wat hul pad gekruis het. Sy afhanklikheid van sy Skepper was duidelik in sy leefwyse en bestuurstyl. Hy was bowenal 'n gesinsman wat sy vrou en seun as die belangrikste mense in sy lewe geag het.
Hoewel Dirkie hom in Amerika gevestig het, was dit vir hul 'n hoogtepunt om jaarliks by hom te gaan kuier. Na sy aftrede het hy sy eie eiendomsagentskap op Jongensfontein bedryf waar die egpaar hul vir ongeveer 19 jaar gevestig het.
"Fanie du Toit se betrokkenheid en liefde vir Oakdale was vir my altyd besonders. Dit was maklik om by hom as hoof oor te neem, want hy het reeds sulke hoë standaarde gevestig. Sy invloed en insette in die lewens van honderde leerders sal verseker vir ewig voortleef. Die skool was bevoorreg om hom as skoolhoof te hê. Ons eer sy nagedagtenis en dank die Here vir die impak wat hy in die lewens van soveel seuns gehad het," aldus André Latsky, huidige skoolhoof .