TUINROETE | KAROO NUUS - Na die uitbreek van bek-en-klouseer op 'n melkplaas buite Humansdorp, 130 km van die Wes-Kaapse grens af, is boere in alle provinsies ingelig om waaksaam te wees teen die simptome van die siekte.
Voor die uitbreek, was die siekte beperk tot die noorde van die land. Volgens die nuutste inligting het die siekte nou versprei na vier plase in die Humansdorp-omgewing waarvan drie van die plase aan een eienaar behoort.
Die huidige uitbreek volgens beskikbare inligting, is slegs in beeste, alhoewel alle gesplete hoefdiere (beeste, skape, bokke en varke asook wilde diere met gesplete hoewe, onder andere buffels) vatbaar is vir die siekte.
Volgens die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, is plase in 'n 10 km-radius om die betrokke plase in kwarantyn geplaas. Die manier hoe die bek-en-klouseer tot in die Oos-Kaap versprei het, word nog ondersoek.
Die virus is hoogs aansteeklik en kan deur draer diere of kliniese siek diere en ook deur mense wat met hierdie diere gewerk het, oorgedra word.
Plaaslike boer, John Robertson, het by 'n geleentheid vroeër die maand tydens 'n besoek van dr. Ivan Meyer aan Mosselbaai, opgebring dat dié siekte katastrofiese gevolge sal hê vir die ekonomie van die Wes-Kaap, indien dit hier sal uitbreek.
"Verlede jaar is die siekte aangeteken in KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en het vir die eerste keer in die Vrystaat voorgekom. Met die uitbreek in die Oos-Kaap, is ek baie bekommerd dat daar nie genoeg publisiteit gegee word aan die verwoestende gevolge, nie net vir die beesboerdery nie, maar ook die wol- en melkbedryf. Kopers sal weier om produkte aan te koop," het Robertson die vergadering ingelig.
Meyer het self sy bekommernis uitgespreek oor die nuutste uitbreek in die Oos-Kaap en die vergadering verseker dat alle trokke wat die Wes-Kaap binnekom, saam met die verkeer afgetrek sal word en dat veeartse by die verskillende weegbrûe geplaas sal word.
Elsenburg.com bied 'n goeie opsomming van die siekte.
Lees meer by www.graaffreinetadvertiser.com
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’