NASIONALE NUUS - Afrikaans het op Vrydag 8 Mei sy 95ste verjaarsdag gevier.
Die eertydse Unie parlement het op dié dag in 1925 Afrikaans as amptelike landstaal erken. Dit het 50 jaar na die stigting van die Genootskap vir Regte Afrikaners gevolg.
Dié taal wat in die begin as 'n eenvoudige kombuistaal waarin niemand ordentlik kan kommunikeer nie beskryf is, het gegroei tot dit volgens 2019 syfers deur Statistiek Suid-Afrika vrygestel, deur nagenoeg 12,2% van alle Suid-Afrikaners tuis gepraat word. Afrikaans is, gebaseer op die aantal moedertaalsprekers, die derde grootste uit die 11 amptelike tale in die land.
Oor die jare het die taal homself stewig in alle aspekte van die samelewing gevestig: In kantore en howe, op verhoë en tussen blaaie van boeke. Alle musiekliefhebbers weet ook Afrikaners kan selfs 'rock in ons taal' (liedjie deur Amanda Strydom) en Afrikaanse musiekfeeste vind gereeld in oorsese stede plaas.
Dit het werklik van kombuistaal in 'n hartstaal en raakvat-skryftaal verander.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'