Die sprong in jaareind-voertuigverkope het die algehele verkoopsyfer vir 2010 tot 492 956 gestoot. Dit is 24.7% beter as die voorafgaande jaar.
"Ons is bemoedig deur die gesonde verkope in 2010, veral die vertoning in die tweede helfte van die jaar," sê Dr. Johan van Zyl, President en Uitvoerende Hoof van Toyota Suid-Afrika Motors.
"Hoewel die mark ’n styging in verkope voor die 2010 Wêreldbeker Sokkertoernooi verwag het, het ons nie verwag dat die styging teen dieselfde tempo sou voortduur nie.
"By TSAM het ons ’n optimistiese groeiteiken van 20% teenoor die 385 186 eenhede van 2009 gestel. Die mark het ons verras deur met 24.7% te groei. Dit kan toegeskryf word aan die meer positiewe ekonomiese klimaat, wat neerslag gevind het in die laer rentekoerse en meer positiewe verbruikersentiment.
"Ons het ook beleef dat kopers ou modelle in 2010 vervang het, nadat hulle in die wisselvallige ekonomiese klimaat in 2008 en 2009 dié stap uitgestel het."
Sommige van dié ekonomiese faktore het ook as dryfveer vir uitvoere gedien. Die uitvoer van voertuie het in Desember met 35.5% gestyg en met 36.9% teenoor 2009. Toyota was die uitvoer-leier in Desember en het 7 846 voertuie uitgevoer - een uit elke drie.
Die styging in verbruikersvertroue was ook duidelik te sien in die aantal voertuie wat deur handelaars verkoop is. Sowat 90% van alle nuwe voertuie is deur handelaars verkoop.
Toyota het 2 129 Corolla-motors, 1 186 Fortuner sportnutsvoertuie (SNV) en 2 895 Hilux-eenhede verkoop. Dit bevestig Hilux as Suid-Afrika se gewildste voertuig, volgens Toyota.
In die mark vir weelde-voertuie het Lexus sy aandeel verstewig deur 139 eenhede te verkoop. Dit verteenwoordig 3.7% van die luukse mark.
Hino Suid-Afrika het sy posisie in die mediumgrootte handelsvoertuigmark met 1.3% na 23.9% verstewig. Dit span die kroon oor 9 jaar as markleier in die segment. Dié voertuig het ook stewige groeisyfers in die ekstra-swaar handelsvoertuigsegment aangeteken.
"Die handelsvoertuigmark het selfs die mees optimistiese ontleder onkant gevang, veral synde die handelsvoertuigmark na die 2010 Wêreldbeker Sokkertoernooi so sterk gegroei het. Dit dui op onderliggende ekonomiese vertroue wat na verwagting in 2011 sal voortduur, hoewel teen ’n stadiger tempo as in 2010," sê Van Zyl.
"Ons verwag dat 2011 ook ’n positiewe jaar sal wees en dat voertuigverkope met tussen 5% en 8% sal groei," sê hy.
TSAM, wat in 1961 gestig is, vier vanjaar sy 50e bestaansjaar in Suid-Afrika en sy 31e jaar as algehele markleier.
Deur Anica Krüger.
Toyota Corolla