MOTOR NUUS - Die treffende nuwe Triton Athlete Special Edition van Mitsubishi maak aanspraak op die goue medalje danksy 'n hele paar uitmuntende eienskappe. Dit is op die bekroonde Triton 4x4-dubbelkajuit-outomaties gegrond en word in Mitsubishi se aanleg in Thailand monteer.
Die Athlete word volledig na Suid-Afrika ingevoer en spog met beter veiligheid en meer toerusting, Isofix-kindersitplek-ankerpunte en 'n 3,1-ton-sleepvermoë om die gesin se leefstyltoerusting saam te neem.
Die sportiewe rompstileringstel en bypassende binneruimafwerking, asook beter veiligheid en meer toerusting kos ook niks meer nie. Dié deftige nuwe weergawe word teen dieselfde verkoopprys as die Triton 4x4-dubbelkajuit in outomatiese weergawe aangebied 'n atletiese prys van R559 995.
Hoewel gerief, voorkoms, verrigting en talle ander voordele in die Triton vir die lang afstand saamwerk, is die veiligheid van die insittendes net soos die laaste 100 meter
in 'n hindernisren steeds die belangrikste oorweging.
Die Triton Athlete met 'n passasiersmotor se gerief, het sewe lugsakke (dubbele lugsakke voor, kantlugsakke, 'n bestuurderknielugsak en lugsakgordyn), Isofix-kindersitplek-ankerpunte, syslagstawe en 'n hoësterktestaal-rompstruktuur vir meer doeltreffende versterking.
Die voordele wat veelsydigheid en praktiese aanwending moontlik maak, is presies wat in die segment vir topgehalte dubbelkajuitbakkies verlang word vir die gesin se leefstylkopers wat 'n aktiewe en avontuurlike voertuig vereis.
"Mitsubishi se nuwe Triton Athlete voldoen aan die behoeftes van die moderne leefstylsegment in die luukse dubbelkajuitmark," sê Nic Campbell, hoofbestuurder van Mitsubishi Motors Suid-Afrika (MMSA).
VOORKOMS
Die toonaangewende nuwe Triton Athlete met sy duidelike oranje en swart stilering voldoen gewis aan die vereistes van individue en gesinne wat voluit leef met avontuurlike en sportiewe aktiwiteite soos branderry, bergfietsry, sweefskermvlieg, perdespring en selfs Motocross of veldmotorfietsry.
Die Triton Athlete is in twee kleure beskikbaar – wit en grys. Dit word deur oranje en swart buite en binne gekenmerk wat die sportiewe ontwerp verder benadruk.
Die nuweling se mooi oranje ontwerpaksente en swart afwerking is uniek aan die Athlete-model en sluit nuwe afwerking vir die voorste buffer, 'n nuwe swart sierrooster en nuwe swart buffers voor en agter, sowel as swart wielnisskerms in.
Die nuwe 17"-allooisierwiele is stylvol en 'n ingeboude agterste deur-lugskort is donkergrys en oranje met swart hoogtepunte op die kanttrappe, deurspieëls, deurhandvatsels en agterste buffer. Die somtotaal van die ontwerp is 'n meer atletiese voorkoms as sy stalmaats.
Die stil kajuit het tweekleur-leersitplekke met oranje insetsels. Die oranje tema word voortgesit met oranje stikwerk van die leersitplekke, stuurwiel, rathefboom, deurpanele en die middelkonsole.
Die Triton Athlete is op die internasionale Triton Adventure X-ontwikkeling gegrond wat Bi-xenon-ligdiodekopligte, dagligryligte (DRL's), 'n multiwerking-stuurwiel, pedaalwissels vir die outomatiese vyfgangtransmissie, 'n opgegradeerde instrumentehuisie, 'n slimsleutel-stelsel met 'n aansitterknop vir die stuurwiel en outomatiese tweesone-lugversorging.
HAASTIG
Onder die enjinkap is hoogtepunte van die Triton Athlete 'n verfynde MIVEC VGT turbodiesel-enjin van 2,4 liter wat 133 kW teen 3 500 r/min en 'n massiewe wringkragpiek van 430 Nm teen 2 500 r/min uitskop.
Tesame met die soepel en akkurate outomatiese vyfgang-Super Select II-transmissie 'n indrukwekkende dryfstelsel vir die oop pad, bied dit ook die nodige vir 'n veldry-avontuur, ratsheid in die stad en sleepwerk.
Die Triton Athlete is nie net vinnig uit die wegspringblok nie, maar het ook die vinnigste versnelling in 'n sleeptoets wat deur die internasionale CAR-motortydskrif gedoen is. Die nuwe voertuig het 'n sleepvermoë van tot 3,1 ton wat klaarspeel met toerusting soos motorfietse, watertuie en selfs 'n mikroligte vliegtuig of sweefskerms.
Die erkende Super-Select II-vierwielaandrywing en die beste invalshoek (28°), vertrekhoek (22°) en oorbruggingshoek (25°) in sy klas, maak die Triton Athlete 'n gedugte veldryer vir mense wat regstaan vir avonture en veldry-aktiwiteite.
Die Triton Athlete is so rats en ligvoetig as 'n hindernisatleet danksy sy gemaklike grootte. Dit beweeg ewe maklik in stadsverkeer, in knap ruimtes op die pad en in die veld en pas ook maklik in die meeste motorhuise en parkeerruimtes.
VEILIGHEID
Die veiligheidsaspek van die Triton Athlete behels 'n magdom aktiewe en passiewe veiligheidseienskappe en stelsels soos veelvuldige lugsakke en elektroniese bestuurderhulpmiddels. Buiten die standaard-toerusting soos ABS met EBD, remhulp (BA), aktiewe stabiliteit- en kloubeheer (ASTC), opdraandewegtrekhulp (HSA) en Super Select 4WD-II 4WD-stelsel, spog die Athlete ook met nuwe bykomende toerusting en eienskappe soos:
- 3.1-ton-sleepvermoë vir bestuurders wat swaar sleepwaens, bote, perdesleepwaens ensovoorts sleep
- 7 lugsakke (dubbele lugsakke voor, kantlugsakke, bestuurderknielugsak en lugsakgordyn)
- Isofix-kindersitplekankerpunte
- Diamantgesnyde 17"-allooisierwiele wat in swart poeierverf afgewerk is
- Oranje plakkers en swart vormstukke vir die voorste sierrooster, buffer en wielnisse
- Bakseil of armadillo-bedekking sowel as 'n reeks vervaardigersgoedgekeurde bybehore
BESONDERHEDE
Die Triton Athlete word teen R559 995 aangebied - 'n spesiale bekendstellingprys - dieselfde as die gewone Triton 4x4-dubbelkajuit-outomaties. Die Triton Athlete is by alle Mitsubishi-handelaars in Suider-Afrika beskikbaar.
Die nuwe Triton Athlete het 'n driejaar- of/ 100 000 km-fabriekwaarborg en 'n vyfjaar- of 90 000 km-diensplan. Versieningstussenposes is elke 10 000 km.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'