GEORGE NUUS – Die 43-jarige Daniella 'Nellie' Scholtz, wat sedert gister, Woensdag 25 Februarie, as vermis aangemeld is, is steeds nie gevind nie. Sy het omstreeks 10:00 Woensdagoggend uit Blanco verdwyn.
Volgens inligting werk Scholtz vir ’n plaaslike drankwinkeleienaar en sou sy die oggend van die een drankwinkel na die ander beweeg om seker te maak alles is in orde.
Dit was deel van haar daaglikse roetine en nie ongewoon nie.
Kringtelevisiebeeldmateriaal wys waar sy haar werkplek te voet verlaat en geld by ’n OTM trek.
Sy het egter nooit by die tweede drankwinkel aangekom nie. Kameras het haar later weer in Maitlandstraat vasgevang.
Haar selfoon is ook afgeskakel.
Sy was ten tye van haar verdwyning geklee in ’n blou denim, ’n swart T-hemp en khaki-kleurige skoene.
Indien enigiemand enige inligting het of haar gesien het, kontak asseblief onmiddellik:
- Regardt: 083 296 9423
- Leandre: 074 765 0070

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’