Update
GEORGE NUUS - Die polisie is op soek na 'n man nadat 'n 43-jarige vrou verlede week aangerand en herhaaldelik op die agtersitplek van haar motor verkrag is.
Die Mosselbaaise gesinsgeweld-, kinderbeskerming- en seksuele misdrywe-eenheid (GKS) het 'n identikit van die verdagte uitgereik.
Hy word gesoek vir verskeie aanklagte van verkragting, poging tot moord en diefstal van 'n motorvoertuig.
Die slagoffer het die verdagte by die Eco Stop Engen-vulstasie in Heatherpark op 29 Augustus ontmoet. Sy wou na bewering dwelms koop en die verdagte, wat homself as Edward voorgestel het, het vir haar gesê hy sal haar na sy huis in Pacaltsdorp neem.
Die verdagte het voorgestel dat hy die slagoffer se motor bestuur aangesien dit vreemd sou wees as sy met die voertuig in dié woonbuurt ry. Die slagoffer het ingestem.
Hulle het onderweg na Pacaltsdorp by 'n vulstasie in Yorkstraat gestop waarna die verdagte die afrit na Mosselbaai geneem en in die rigting van die Groot-Brakrivier gery het.
Die slagoffer het agterdogtig geword, maar die verdagte het haar verseker dat dit 'n kortpad is.
Hy het na bewering naby Buffelsdrift-plaas gestop waar hy die slagoffer aangerand en herhaaldelik agter in die voertuig verkrag het.
Daarna het hy haar na die aangrensende veld geneem waar hy haar met 'n tou probeer verwurg het.
Hy was onsuksesvol en het uiteindelik haar hande en voete daarmee vasgebind. Hy het haar in die veld gelos en met haar rooi Volkswagen Golf weggery.
Die slagoffer kon tot op die N2 kom waar 'n vragmotorbestuurder haar gesien het. Hy het die polisie in kennis gestel en sy is na die naaste hospitaal geneem.
Die polisie doen 'n beroep op enigiemand met inligting om die ondersoekbeampte, sersant Soretha van Zyl by Mosselbaai GKS-eenheid by 044 693 3869, te kontak.
Lees 'n vorige artikel: Alleged rapist on the loose
ARTICLE: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOURNALIST
'We bring you the latest George, Garden Route news'