GEORGE NUUS - 'n Plasing deur 'n verslae inwoner, Martie Botha, op die Facebook-blad Georgiete Staan Saam, het 'n reeks kommentare tot gevolg gehad ná 'n vrou glo helder oordag nie nét byna verkrag is nie, maar drie messteekwonde opgedoen het en vir amper drie ure vir 'n ambulans moes wag.
Die plasing volg ná 'n vrou kort voor 10:00 op Vrydagoggend, 3 Maart, in Yorkstraat voor Botha se besigheid op die hoek van Palgrave- en Yorkstraat onder 'n boom ineengestort het.
"Toe ons haar vra wat gebeur het, vertel sy iemand het haar probeer verkrag. Toe sy haar teësit is sy drie keer met 'n mes gesteek," vertel Botha.
Die voorval het glo laer af in Yorkstraat plaasgevind en die slagoffer het gehardloop tot sy nie meer kon nie.
"Ons het Optima Security en die polisie gebel wat binne oomblikke daar was," vertel Botha.
Die provinsiale ambulansdiens is geskakel en 'n Samaritaan het verbygekom wat vir omstanders gewys het hoe om die wonde toe te druk om die bloeding te verminder. "Hy het ook die ambulansdiens gebel," sê sy.
"Die twee steekwonde in haar rug was diep en ons was bang sy bloei dood. Ná 'n uur was daar nog geen teken van 'n ambulans nie," vertel sy.
Twee ure later het hulle glo steeds vir 'n ambulans gewag terwyl die slagoffer se vriend twee verbygaande ambulanse probeer stop het.
"Ek het weer die hospitaal se noodeenheid geskakel en 'n dame het my gehelp. Sy het die nood verstaan. Sy het gesê dat daar nie dadelik 'n ambulans beskikbaar was nie, maar dat sy 'n noodvoertuig sal stuur. Die noodvoertuig het opgedaag en haar hospitaal toe geneem. Ek het nie die slagoffer se naam gekry nie, maar ek sal graag wil weet hoe dit met haar gaan."
Drie provinsiale ambulanse vir George
'n Woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid, Byron La Hoe, het die voorval bevestig en gesê dat al drie hul ambulanse in daardie stadium besig was met lewensbedreigende voorvalle.
"Pogings is aangewend om te kyk of enige van die privaat ambulanse ons kon bystaan, maar hulle was ook nie beskikbaar nie. Daarom het ons die reddingsvoertuig, wat meestal vir motorongelukke gebruik word, uitgestuur sodra ons kon," sê hy.
Planne om die vloot en hulpbronne te vergroot is ook nie in hierdie stadium in die pyplyn nie.
"Weens finansiële beperkings wat die hele departement in die gesig staar, is daar geen onmiddellike planne om die hulpbronne te vergroot nie. Dit is 'n uitdaging regoor die provinsie," sê hy.
'n Skermgreep van 'n gedeelte van Botha se plasing op Georgiete Staan Saam.
Meer personeel
Vir elke ambulans moet daar nege personeellede wees om die voertuig 24 uur van elke dag te beman. Meer ambulanse vereis dus meer personeel.
Daar word egter gekyk na alternatiewe modelle van dienslewering om te sien of die dienste/dekking na 'n gebied verhoog kan word sonder 'n toename in hulpbronne.
"Dit sal kreatiwiteit en samewerking tussen die gemeenskappe en betrokkenes in die gesondheidssfeer vereis, maar ons bly toegewyd tot dié doel," sê La Hoe.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'