GEORGE NUUS - Om 'n kolhou in gholf te speel is iets besonders, maar om dit twee keer in minder as vier jaar reg te kry, is verseker uitsonderlik.
Anthea van der Westhuizen, (85), 'n ouma van nege kleinkinders en sewe agterkleinkinders, het Woensdag 9 Julie met 'n drywer in die hand, die wit balletjie van die bof op die 11de putjie van die Oubaai-gholfbaan oor 'n afstand van 125 m tot in die gaatjie op die setperk geslaan.
Natuurlik was sy self verbaas want dit word as 'n moeilike putjie beskou en gewoonlik slaan sy die bal in die nabygeleë water. Die putjie is 'n syfer drie.
Dit was nie die eerste keer dat sy 'n kolhou behaal het nie.
Op 10 Julie 2021 het sy dit die eerste keer op dieselfde baan by die 17de putjie reggekry. Destyds het sy 'n 5-yster gebruik.
Volgens haar is dit 'n onbeskryflike gevoel om 'n kolhou te behaal. Van der Westhuizen se belangstelling in gholf kom 'n lang pad. Dit was die gholflegende Ernie Els, wat haar geïnspireer het om die sport te oorweeg. Haar man, Nic, en sy het 'n klompie jare gelede die Miljoen Dollar-uitdaging by Sun City as gaste van Volvo bygewoon. Toe Els die bal slaan en sy hoor daardie klank toe sy gholfstok die bal tref kon sy dit nie vergeet.
Anthea van der Westhuizen beduie na die gaatjie op die setperk van die 11de putjie. Dis by die putjie waar sy die kolhou behaal het.
Die volgende jaar was hulle weer by die toernooi en die idee om gholf te speel het 'n moontlikheid geword.
Later tydens 'n vakansie in Ballitobaai het dinge 'n stappie verder gegaan. Sy het vir Kersfees 'n 7-yster en drie gholfballe ontvang. Daarna het sy ook vir 'n paar lesse gegaan.
Toe die vrou wat die lesse aanbied, vir haar sê sy sal dit kan maak in gholf, was die koeël deur die kerk en sy het begin speel.
'n Paar jaar gelede het die egpaar na George verhuis. Hier het sy voortgegaan om gholf te speel en by Oubaai-gholfklub aangesluit. 'n Besonderse oomblik vir haar was toe sy vir Els persoonlik by Oubaai ontmoet het.
Na haar kolhou het sy en haar die medespelers, Marialese Coetzee, Elmien van Niekerk en Charlene Vos, die ronde voltooi.
By die klubhuis moes sy as deel van tradisie vir almal vonkelwyn koop en die klub se klok lui. Sy praat met groot lof van Oubaai se klub. "Hulle is soos familie."
Gholf is nie al waarmee sy haar besig hou. Sy word in Augustus 86 jaar oud en glo aan 'n positiewe lewensbenadering, om besig te bly, die lewe te geniet, lekker dinge te doen en mense gelukkig te maak.
"Jy moet elke dag vir die Here dankie sê omdat Hy na jou kyk. Sonder Hom sal ek nie dinge regkry nie."
Gaan sy probeer om 'n derde kolhou te speel? "Ek gaan aanhou probeer om dit weer reg te kry."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’