GEORGE NUUS - Blanco-rugbyklub het op Sondag 8 September 'n geliefde speler verloor toe Gueswin Wildemans (28), helder oordag doodgesteek is.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, word beweer dat twee mans in 'n argument betrokke geraak het rondom 12:50 in Vrugtestraat en in die proses het Wildemans drie steekwonde opgedoen. Hy is later deur paramedici op die toneel dood verklaar.
"Hy los 'n groot leemte in die gemeenskap," sê Wildemans se suster, Mercia Mamepille.
"Gueswin was 'n stil mens en het op sy rugby gefokus. Hy was veld toe vir oefening en dan weer terug huis toe en was glad nie 'n bakleier of messteker nie. Hy het daarvan gehou om grappe te maak en almal kon vir hom lag en die mense het baie van hom gehou," sê Mamepille.
Haar broer is in Blanco gebore en het by Laerskool Kretzenhoop skoolgegaan. In die gemeenskap het mense hom as Vonk of Vonkie geken en hy het ook gereeld hare gesny.
Die Blanco-rugbyklub se bestuur skryf in 'n huldeblyk aan Wildemans: "Gueswin se pad met rugby het op 'n jong ouderdom begin.
Sy vaardighede en vasberadenheid het hom vinnig tot prominensie gedryf en hy het deur sy loopbaan beduidende bydraes tot sy spanne gemaak.
Sy sportmangees, toewyding tot uitnemendheid, en aansteeklike entoesiasme het baie geïnspireer.
Buite rugby was Gueswin bekend vir sy vriendelikheid, sin vir humor en onwrikbare ondersteuning vir sy geliefdes.
Hy laat 'n nalatenskap van beide atletiese prestasie en persoonlike warmte agter."
Die polisie het 'n 40-jarige verdagte in hegtenis geneem. Die verdagte het op Dinsdag 10 September sy eerste hofverskyning op aanklag van moord in die George-landdroshof gemaak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’