GEORGE NUUS - Nadat 'n verdagte Maandag 7 Oktober, deur 'n polisieman in Mentzstraat, Conville, in die maag geskiet is, het dit aan die lig gekom dat hy nie op die toneel in hegtenis geneem is soos vroeër berig is nie.
Volgens 'n familielid van die beseerde verdagte het hulle hom in Korhaanstraat opgetel, waar hy inmekaargesak het. Hulle het hom toe na sy huis in Peddie Millerstraat geneem waarna hulle 'n ambulans ontbied het.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag bevestig dat die verdagte van die toneel weggehardloop het nadat hy geskiet is.
Volgens Conville-polisie se stasiebevelvoerder, kol. AB Kriga het polisiebeamptes die man in die maag geskiet ná hy glo met 'n handgemaakte wapen op een van die lede afgestorm het.
Twee lede van die Conville-polisie was op patrollie in die area toe hulle die twee mans saam met 'n vrou sien stap het.
"Die lede wou stop om te hoor of als in die haak was, maar toe ons voertuig stilhou, het die twee mans te voet gevlug," sê Kriga. Die lede het die twee verdagtes agternagesit en kon daarin slaag om een van hulle vas te keer. Die verdagte het egter glo omgedraai en die handgemaakte wapen in die rigting van die polisieman gewys en op hom afgestorm. Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het die ondersoek bevestig.
Die verdagte was, nadat hy in hegtenis geneem is, in die hospitaal onder polisiebewaking. Hy is intussen ontslaan en is tans in aanhouding.
Hy was geskeduleer om gister, Woensdag 23 Oktober, in die George-landdroshof te verskyn. Teen druktyd was die besonderhede rondom sy verskyning nog nie bevestig nie.
Lees 'n vorige artikel: Polisieman skiet verdagte glo uit noodweer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'