Update
GEORGE NUUS - Die slagoffer in Sondagoggend se skietvoorval in Pacaltsdorp, Denzil Fortuin (42), het vroeër vanoggend in die George-hospitaal gesterf.
Die klagte waarop die vier verdagtes vanoggend in die George-landdroshof verskyn, sal na na ‘n klag van moord verander word.
Die verdagtes, tussen 28 en 33 jaar oud, is almal van Thembalethu en is kort na die voorval in Missionstraat in Pacaltsdorp in ‘n swart BMW aangekeer.
Na wat verneem word, is geen vuurwapens in die voertuig saam met die verdagtes gevind nie, en word daar vermoed dat die wapens wat in die aanval gebruik is, in ‘n tweede voertuig was.
Lt.kol. Malcolm Pojie, die provinsiale woordvoerder, het by navraag gesê hulle soek nog na ‘n silwer BMW, registrasienommer CAW 96659, en nog verdagtes.
“Daar is tans baie gerugte wat die ronde doen oor wat tot die aanval gelei het. Die motief vir die aanval vorm deel van die ondersoek en ons kan nog nie met sekerheid sê wat presies daartoe aanleiding gegee het nie,” het Pojie bygevoeg.
Enigiemand met inligting oor die gesoekte voertuig of die voorval, skakel sers. Cindy Horn by 044 803 9100 of 08600 10111.
Vorige artikel: 4 vas na skietery in Pacaltsdorp, man kritiek
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'