GEORGE NUUS - Vier mans is vanoggend in Pacaltsdorp in hegtenis geneem na 'n skietvoorval waarin een persoon verskeie kere raakgeskiet is.
Die slagoffer, in sy vroeë 40's, is onder andere in sy kop en lyf geskiet en is in 'n kritieke toestand na die hospitaal geneem.
Nog 'n man wat aangerand is, is ook per ambulans na die hospitaal geneem.
Daar word beweer dat die aanvallers in twee voertuie, 'n silwer asook swart BMW, by 'n huis op die hoek gestop en verskeie skote op die slagoffer afgevuur het.
Volgens inwoners is die twee mans wreed aangerand deur hulle aanvallers en was daar herhaaldelik probeer om die slagoffers in die motors se kattebakke te dwing, maar kon die mans daarin slaag om te ontsnap.
Verskeie oproepe na die Pacaltsdorp-polisie is glo nie beantwoord nie en het lede van die buurtwagte in Pacaltsdorp eerste op die toneel opgedaag gevolg deur nooddienste.
Navraag hieroor is na die polisie gestuur. Hulle terugvoer word afgewag.
Volgens lt.kol. Malcolm Pojie, die provinsiale woordvoerder, dui voorlopige inligting daarop dat die voorval om 11:45 op die hoek van Protea- en Houtkapperstraat in Andersonville plaasgevind het.
Pojie sê die vier verdagtes, tussen 28 en 33 jaar oud, is deur oplettende lede van die polisie in een van die voertuie in Missionstraat voorgekeer en in hegtenis geneem. Hulle sal binnekort in die George-hof verskyn op 'n klag van poging tot moord.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'Enigiemand met inligting oor die voorval kan die ondersoekbeampte, sers. Cindy Horn kontak by 044 803 9100 of 08600 10111.