UNIONDALE NUUS - Die leierskap van ontevrede inwoners van Uniondale ontmoet Donderdagaand, 8 Augustus, om die terugvoering oor hul versoeke te bespreek. Dit is moontlik dat 'n gemeenskapsvergadering Sondag gehou sal word waar dit dan voorgelê sal word.
Onrus het op 15 Julie op die dorp uitgebreek nadat een persoon in 'n brand in 'n informele nedersetting gesterf het. Grootskaalse geweld oor dienslewering het daarna uitgebreek en verskeie mense is in hegtenis geneem.
Inwoners het daarna sekere eise gestel. Dit is in vier memorandums vervat - twee aan die stadsraad / munisipaliteit, een aan die polisie en een aan die departement van justisie.
'n Woordvoerder van die ontevrede inwoners het by navraag gesê hulle het reeds terugvoering van die munisipaliteit ontvang. "Die terugvoering wat ons van hulle ontvang het, is uit ons oogpunt negatief."
In die memorandum wat op Maandag 29 Julie aan die polisie oorhandig is, wou inwoners meer weet oor die hantering van die twee boere wat ook aangekeer is. In die memorandum aan die departement van justisie wou inwoners weet waarom die klagstaat teen die boere verander is.
Volgens die woordvoerder het die polisie uitstel tot Donderdag gevra om te reageer en teen Maandag het die departement van justisie nog nie gereageer nie.
Die woordvoerder het benadruk dat inwoners na 'n vreedsame oplossing streef.
'Ons bring jou die nuutste Uniondale, Tuinroete nuus'