GEORGE NUUS - Mens kan nie anders as om die rye groen hops langs die hoofweg tussen die Oudts-hoorn-afdraai en die Outeniquapas te bewonder nie. Hierdie plante is uniek tot die gebied en vorm die kern van Suid-Afrika se bierbedryf.
In die hart van Waboomskraal lê 'n besondere vallei met 'n ideale klimaat wat maak dat Waboomskraal en sekere dele in en rondom George die enigste gebiede suid van die ewenaar in Afrika is waar hops suksesvol verbou word.
Dit is ook hier waar deur SA Brouery (SAB) sy kernproduk vandaan kry.
Om meer te leer oor hierdie unieke boerdery, het ons by Dean Barnard van Oppie Plaas in Waboomskraal gaan aanklop. Barnard het op die plaas grootgeword en is 'n tweede generasie hopsboer. Sy pa, Deon, het reeds in 1983 begin hops plant, in 'n tyd toe daar sowat 23 hopsboere in Waboomskraal en George was.
Video: Dean Barnard deel sy kundigheid en gee kykers ’n blik agter die skerms van hierdie gespesialiseerde boerderypraktyk.
Vandag het die bedryf aansienlik gekrimp, met slegs sewe privaat boere en drie kommersiële plase wat steeds hops verbou, asook 'n paar proefgebiede wat deur Suid-Afrikaanse Brouerye besit en bestuur word.
Volgens Barnard het die aantal hopsprodusente oor die jare afgeneem omdat die alfasuurinhoud van hops aansienlik verhoog het. Vroeër jare was die alfasuur, wat vir die smaak en bitterheid van hops verantwoordelik is, tussen agt en 10%. Nuwe hopsvariëteite het egter 'n alfasuurinhoud van tussen 14 en 18%. Hoewel bierverkope aansienlik gestyg het, word minder hops benodig omdat hoër konsentrate gebruik word.
Die hoof variëteit wat tans geplant word, is Southern Star, gevolg deur Southern Promise, Southern Dawn, African Queen en Southern Passion.
Proses
Die verbouingsproses is uiters arbeids-intensief. Hops word tussen Kersfees en Nuwejaar opgeërd, waarna steggies in Julie gemaak word. Hierdie steggies word vir ses weke in 'n koelkamer gehou om te rus en om enige moontlike siektes uit te skakel.
Oppie Plaas begin gewoonlik voor 20 Sep-tember plant en vestig ongeveer 8 000 tot 10 000 plante per hektaar, hoewel sommige boere tot 12 000 plante per hektaar aanplant, afhangend van hul bestuurspraktyke. Daarna word tussen 10 000 en 13 000 lyne per hektaar met die hand gespan waarteen die hops moet oprank. Gedurende hierdie fase is sowat 24 werkers betrokke.
Teen middel Oktober word die rankies gedraai. Die vier sterkste rankies word gekies en kloksgewys met die hand om die lyne gedraai. Indien dit verkeerd gedoen word, kan die plant afval.
Teen Kersfees moet die hops reeds oor die draad gegroei het. Die plante het net twee maande om tussen vier en agt meter hoog te groei, wat groot hoeveelhede water en hoë humiditeit vereis. Dit is juis hierdie klimaatstoestande wat Waboomskraal so geskik maak vir hops, en ook vir pruime.
Vanaf November word die rankies gereeld reggedraai soos dit groei. Sodra die plant oor die draad knak en horisontaal begin groei, vorm dit laterale en begin sytakke ontwikkel.
Hopswingerd in blom. Photo: Marguerite van Ginkel
Stikstof
Stikstof speel 'n groot rol in die vroeë groeistadium. In Oktober word ongeveer 250 kg stikstof toegedien, in November nog 350 kg en in Desember 250 kg per hektaar. Hierdie insetkoste het die afgelope jaar met sowat 18 % gestyg, moontlik as gevolg van die oorlog in Oekraïne. Ligte word ook gebruik om langer dagligtoestande te simuleer, maar slegs op sekere variëteite.
Tydsberekening is krities, aangesien te veel lig produksie negatief kan beïnvloed.
Waterbestuur bly een van die grootste uitdagings. Droë toestande verhoog die risiko van peste soos rooispinnekop en aalwurms. Barnard skat dat hy weens die onlangse droogte tussen 300 en 500 kg per hektaar se oes verloor het. Lande wat deur droogte geraak word, kan tot drie jaar neem om ten volle te herstel. Ten spyte hiervan bly hy positief en probeer hy om chemiese middels so min moontlik te gebruik.
Die oesseisoen begin einde Februarie en moet binne sowat 19 tot 20 werksdae afgehandel word. Arbeidswetgewing beperk die aantal ure wat gewerk mag word, wat die tydsdruk verder verhoog.
Alle Castle Light, Castle Lager, Black Label en Milk Stout word uitsluitlik van Suid-Afrikaanse hops gemaak, en dit is net die hops uit Waboomskraal en George wat hiervoor gebruik word. Dit is inderdaad 'n unieke bedryf wat 'n nuwe waardering skep vir dit wat in 'n bier ingaan.
Wanneer jy weer 'n slukkie van 'n yskoue Suid-Afrikaanse bier neem, dink gerus aan die boere en werkers wat met groot sorg verseker dat slegs hops van die hoogste gehalte gebruik word.
Teen Kersfees moet die hops reeds oor die draad gegroei het. Die plante het net twee maande om tussen 4 tot 8 meter hoog te groei. Foto: Marguerite van Ginkel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’