GEORGE NUUS - Die avontuur-toerisme-moontlikhede wat George en die Tuinroete bied is aan 'n internasionale gehoor bekend gestel tydens die Adventure Travel World Summit wat van 11 tot 14 September in Japan gehou is. Die Tuinroete is deur Alewijn Dippenaar van George verteenwoordig.
Die geleentheid kan uiteindelik potensieel miljoene mense bereik.
Dit is deur die Adventure Travel Trade Association gereël en is gehou in Sapporo in die Hokkaido-streek, waar die Olimpiese Winterspele in 1972 plaasgevind het.
Altesame 65 lande was verteenwoordig en dit is deur sowat 800 afgevaardigdes bygewoon.
Die tema was "Chowa", die Japannese woord vir harmonie. Die gedagterigting in Japan is wedersydse respek en samewerking tussen die rolspelers om die land te laat werk.
Dippenaar het uit Sapporo aan George Herald gesê dit was die 19de keer dat die byeenkoms gehou is. Aanstaande jaar vind dit in Panama plaas en hy het tydens die geleentheid in Japan, Panama se minister van toerisme ontmoet.
Dit is 'n geslote beraad en nie oop vir die publiek nie, met die fokus op sakeondernemings. Die afgevaardigdes het 'n wye verskeidenheid avontuurprodukte van regoor die wêreld verteenwoordig, onder andere fietsry, stap en lugballon-avonture. Geleentheidsprekers het insette gelewer oor onderwerpe soos die volhoubaarheid van avontuur-toerisme.
Daar was nie formele stalletjies nie, maar elke land het 'n ronde tafel gehad waarby hulle gesit het vir afsprake wat hulle vooraf gereël het. Dippenaar het 22 produkte van die Tuinroete, Overberg en die Oos-Kaap verteenwoordig en het sowat 25 afsprake vooraf gereël. Daar was 10 afgevaardigdes uit Suid-Afrika.
Met die bywoning wou hy vasstel hoe avontuur-toerisme internasionaal bedryf word, asook aspekte soos uitdagings, knelpunte en krisisse.
Hy wou ook 'n bewustheid internasionaal by mense skep van wat hulle alles hier in die gebied kan ervaar.
Dippenaar wou ook die konsep van avontuur-toerisme bevorder vir families en gesinne. Hy het gesê mense kan hierheen kom en vakansie hou in die gebied.
Hy het benadruk dat hy nie die geleentheid sou kon bywoon sonder die hulp van die departement van toerisme nie. Mense kon aansoek doen en is dan deur die departement gesubsidieer vir vliegtuigkaartjies, verblyf en die koste om dit by te woon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’