Update
OUDTSHOORN NUUS - "James O'Connell se afsterwe is 'n onmeetbare verlies vir die lugvaartgemeenskap en vir ons almal by TFASA."
So het Jean Rossouw, president van TFASA (Test Flying Academy of South Africa) vanmiddag, 23 Maart in 'n verklaring gesê.
O'Connell is gister, Saterdag 22 Maart in 'n vliegongeluk tydens 'n vliegskou in Saldahna oorlede. Hy was TFASA se hoofvlieginstrukteur op Oudtshoorn en het 36 jaar vliegervaring gehad waarvan 25 jaar gewy was aan eksperimentele vlugtoetsing. Hy het hier saam met sy vrou en drie seuns gewoon.
TFASA, 'n vliegskool op Oudtshoorn, bied toetsvlug- en spesialis-lugvaartopleiding vir Asië en progressiewe nasies regoor die wêreld aan.
Volgens die verklaring was die Impala Mark 1, 'n vegvliegtuig, een van TFASA se vertoonvliegtuie.
"Hy was die hoofvlieginstrukteur en hoof van die toetsvlieënierskool by TFASA. Hy het ook 'n instrumentele rol gespeel in die vorming en bevordering van die volgende generasie toetsvlieëniers en vlugtoets-ingenieurs. James het ons vir meer as 10 jaar gehelp om ons visie te vorm.
"As 'n internasionaal gerespekteerde verskaffer van gevorderde lugvaartoplossings, is TFASA se missie om vlugtoets- en spesialisvliegopleidingskundigheid oor beide militêre- en burgerlike lugvaartsektore te lewer, en James het hierdie missie vervul. Deur sy tegniese en professionele uitnemendheid, het hy ons waardes gepersonifeer. Sy nalatenskap sal almal wat in sy voetspore volg inspireer," lui die verklaring.
Volgens TFASA is die fynere besonderhede rondom die oorsaak van die ongeluk nog onduidelik, maar 'n formele ondersoek, deur onder andere die Suid-Afrikaanse burgerlugvaartowerheid en Lugskou Suid-Afrika, is tans aan die gang en TFASA gee hul volle samewerking in die verband.
Volgens Rossouw was O'Connell nie net 'n besonderse vlieënier nie, maar ook 'n mentor en vriend.
"Sy impak wat hy gemaak het sal vir jare blywend wees."
Sisa Majola, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse burgerlugvaartoorwerheid (SACAA - South African Civil Aviation Authority), het gesê die AIID (Accident and Incident Investigations Division) werk nou saam met die veiligheidsbeamptes wat by die vliegskou teenwoordig was om voorlopige inligting in te samel.
"Die perseel is intussen beveilig hangende die aankoms van die ondersoekspan. Die AIID sal nuwe inligting bekend maak indien nog. 'n Voorlopige verslag sal 30 dae vanaf die dag van die ongeluk op die SACAA-webwerf gepubliseer word."
Lees die vorige berig hier:
TFASA's Chief Flight Instructor in ODN dies at West Coast Air Show
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’