Update
GEORGE NUUS - Ná 'n raps meer as twee jaar in die gevangenis, is die plaaslike tandarts, Ian Venter, op Maandag 14 Junie op parool vrygelaat.
Venter is in Februarie 2019 tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis ná hy op 11 April 2018 skuldig bevind is op 'n aanklag van seksuele aanranding van 'n minderjarige na hy in 2015 'n seun (toe 13), wat by sy huis in Heroldsbaai oorgeslaap het, seksueel betas het.
Volgens die departement van korrektiewe dienste se Candice van Reenen, het Venter op 22 Januarie vanjaar voor die raad van korrektiewe toesig en parool verskyn ná hy die minimum vonnis uitgedien het. Voorsiening is gemaak vir slagofferbetrokkenheid waarna Venter weer in Mei voor die raad verskyn het.
"Alle partye is van die raad se besluit in kennis gestel. Venter mag geen vorm van kontak met die slagoffer of sy gesin maak nie," sê van Reenen.
Ander oortredings
Venter is in November 2014 tot vier jaar korrektiewe toesig gevonnis na hy in September daardie jaar skuldig bevind is daaraan dat hy in Desember 2011 seks met 'n 15-jarige seun gehad het. Slegs vyf maande na hy vir die eerste oortreding skuldig bevind is, het hy die tweede oortreding begaan.
In Augustus 2019 het Venter ook in die Thembalethu-streekhof skuldig gepleit op aanklag van minagting van die hof. Dié klagte pleit spruit uit 'n voorval waarin hy tydens sy vonnis van korrektiewe toesig kinderpasiënte behandel het.
Tydens sy vonnisoplegging in 2014 het die hof gelas dat Venter nie kinders mag behandel nie. Hiervoor is hy 'n opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê wat samelopend uitgedien is met sy laaste vonnis.
Lees vorige artikels:
- George-tandarts pleit skuldig op minagting van die hof
- Tandarts pleit skuldig op minagting
- Tandarts in hof vir minagting: Saak uitgestel
- Tandarts in hof vir minagting
- Tandarts kry drie jaar tronkstraf
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'