GEORGE NUUS - 'n Waterweerbaarheidstrategie vir elke plaaslike munisipaliteit in droogtegebiede in die Wes-Kaap is deel van die provinsiale departement van plaaslike regering, omge-wingsake en ontwikkelingsbeplanning se planne om waterbestuur en instandhouding van infrastruktuur te verbeter.
Die departement se minister, Anton Bredell, het die Tuinroete-distriksmuni-sipaliteit se rampbestuursentrum verlede Woensdag, 25 Februarie, besoek, waar hy op hoogte gebring is van die streek se algemene gereedheid ten opsigte van die droogte en brande.
Wat die uitbreiding van infrastruktuur vir watervoorsiening betref, het Gerhard Otto, hoof van rampbestuur, gesê die hergebruik van water deur omgekeerde osmose is vir George 'n opsie om sy kapasiteit uit te brei.
"Vir Knysna is die som nou gemaak. Dis R7,60 per kiloliter. Die aanleg in Knysna is in 2010 met rampfondse teen 'n koste van R34m opgerig. Dit sal R10m kos om dit weer aan die gang te kry en daar kan aansoek gedoen word vir rampfondse vir hierdie doel. Ek het die verslag oor wat gedoen moet word klaar in my hande en ons kan hom binne vyf maande laat loop."
Volgens Bredell is hulle besig met 'n inligtingstoer om die strategie met die betrokke plaaslike owerhede te bespreek.
Die strategie word vir elke munisipaliteit se unieke situasie aangepas en is tweeledig: Eerstens word elke pypleidingstelsel geanaliseer om waterverliese te bepaal, en tweedens word die koste van die nodige herstelwerk, instandhouding en moontlike uitbreiding vir die betrokke munisipaliteit bereken.
Kundiges is ingeroep om te help met die ontwikkeling daarvan. Daar is spesifiek bepaal watter instandhoudingstake agterstallig is deur elke pyp na te gaan.
Die plan dui ook aan watter infrastruktuur en begroting benodig word om met bevolkings- en ekonomiese groei tred te hou. Grafieke en projeksies van hierdie oefening sal met elke munisipaliteit gedeel word.
Bredell het gesê twee amptenare gaan by elke betrokke munisipaliteit opgelei word om die inligting te kan interpreteer. "Dit sal die besluitnemers help om te kan motiveer hoekom dit belangrik is om sekere bedrae vir instandhouding te begroot sodat ons kan bybly by die groei. Weens die geweldige bevolkingstoename in die provinsie - 19% oor die afgelope 15 jaar - het baie munisipaliteite agtergeraak met instandhouding."
Die verkryging van internasionale befondsing vir infrastruktuur vir munisipaliteite is deel van die waterweerbaarheidsplan.
George het al met die onlangse opgradering van die watersuiweringswerke uit so 'n befondsingsmodel voordeel getrek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’