GEORGE NUUS - Wat as ’n doodgewone aand begin het, het binne minute in ’n lewe-of-dood-stryd vir Luke, ’n vyfjarige spanjoel (cocker spaniel) van George verander.
Volgens sy eienaars, Jaco Reyneke en sy vrou Teresa, het die nagmerrie begin toe hulle onlangs saam met vriende gaan eet het, terwyl die kinders by die huis gebly het om hul huiswerk te doen.
Skaars ’n uur ná hulle vertrek, het ’n oproep van die kinders die rustige aand in skielike chaos verander.
“Luke het twee hoendersosaties uit een van die kinders se borde gegaps en kort daarna het hy vreemd begin strek en draai, asof sy lyf iets probeer uitskud wat nie daar hoort nie,” vertel Jaco.
Toe hulle by die huis kom en sien dat die bewegings aanhou, het hulle Vitalvet Animal Medical Centre se 24-uur-noodlyn geskakel. Dr. Laura Snyman het aanbeveel dat Luke onmiddellik ondersoek word om seker te maak dat daar nie ’n obstruksie is nie.
“Hulle het ’n sonar op Luke gedoen en die uitslae het aanvanklik skoon gelyk. Luke het die nag by die hospitaal gebly sodat hulle hom kon monitor. Die volgende middag kon hy huis toe kom.”
Maar dinge het nie verbeter nie.
Weer terug veearts toe
’n Dag later was Luke lusteloos, het min beweeg en wou nie eet nie. Die Reynekes is weer met Luke veearts toe waar nog ’n sonar en ’n X-straal gedoen is. Weereens het alles normaal gelyk. Kort daarna het Luke egter ’n vreemde hoes begin ontwikkel en ’n paar dae later was daar bloed.
“Ons moed het in ons skoene gesak,” vertel Jaco.
Veeartse het hierdie keer wel rede tot kommer gevind met skade aan een van Luke se longe wat vog opgebou het. Teen die volgende oggend het Luke se toestand redelik versleg.
Moeilike keuses
“Daar het vir ons twee opsies oorgebly. Om Luke gemaklik te maak en hom te laat gaan, of ’n uiters komplekse en riskante operasie.”
Die span by Vitalvet het egter met ’n derde moontlikheid vorendag gekom. Hulle het aangebied om ’n torakotomie, ’n groot operasie waar die borskas oopgemaak word om toegang tot die longe te kry, by hulle praktyk uit te voer. Daar was nie meer tyd om Luke Paarl toe te neem waar spesialisoperasies gewoonlik gedoen word nie. Dié spesifieke prosedure is egter nog nie voorheen by die George-praktyk uitgevoer nie.
“Vitalvet het aangebied om die operasie op hul onkoste te doen, terwyl ons vir die herstelbehandeling betaal,” verduidelik Jaco.
Dr. Helen Pringle, wat reeds soortgelyke prosedures gedoen het, het die operasie gelei. Teen 12:00 daardie middag het die span begin opereer en drie ure later het hulle ’n sosatiestokkie van 12 cm uit Luke se long verwyder. Die stokkie het ’n gaatjie in die long gesteek, wat gelei het tot die skade en die vog wat opgebou het.
‘Lucky Luke’
Luke is daarna in intensiewe sorg geplaas, met die volgende 48 uur wat kritiek sou wees.
“Twee dae later kon ons vir hom gaan kuier en ’n week later is hy ontslaan.”
Hy het stadig maar seker na sy ou self begin terugkeer en vandag is ‘Lucky Luke’ weer vol energie by die huis.
“Ons is so dankbaar vir al die omgee, liefde en passie wat hulle vir diere het. Luke is beslis nou die mees bederfde brak in George.”
Die mediese span wat die operasie op Luke uitgevoer het.
Die sosatiestokkie wat uit Luke verwyder is.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’